RIVERSDAL NUUS - 'n Baie bekende oudinwoner van dié dorp, Bernard Fielies, het onlangs sy tweede digbundel vrygestel.
Fielies se eerste digbundel, getiteld Na die oú Riversdal is in November 2011 vrygestel. Sy tweede bundel se titel is Soektog na die Son.
Volgens die digter put hy vreugde uit die mylpaal en hy dank God dat sy gedigte ander kan bemoedig.
"Die skryf van gedigte was aanvanklik vir myself. Dit versterk my," vertel hy. Maar baie mense het hom aangespoor om te publiseer, wat hy toe gedoen het. "Ek wil graag 'n mondstuk wees vir diegene wat nie kan, wil of mag praat nie. In elke gedig is 'n soeke na een of ander ding, vandaar die titel Soektog na die Son."
Fielies skryf sedert 1984 en dis vir hom moeilik om te sê hoeveel gedigte hy al geskryf het. Dit kan duisende beloop, omdat skruf vir hom soos selfgenesing is. "Dit vat soveel seer weg. Ek skryf wanneer ek goed voel, maar verál as ek seer voel."
Hy skryf oor die lewe van vandag en spreek dinge aan soos dit is, maar voel dit is ook belangrik om in elke gedig hoop te gee. Sodra hy sy storie oor 'n betrokke gedig het, vloei dit outomaties. Hy beplan nog heelwat bundels en is juis besig met die uitleg van 'n derde bundel.
"My gesin is baie ondersteunend en gee my elke keer nuwe moed. Ek het geen formele skryfopleiding nie en dit wat ek skryf, kom direk van die Here."
Fielies sê sy grootste beloning uit sy gedigte sal wees as mense nuwe hoop in hierdie donker wêreld kry.
Meer oor die mens agter die gedigte
Fielies is 47 jaar oud en is in die koerierbedryf. Hy is al 18 jaar met Petula getroud en die egpaar het vier kinders. Hulle het hul driejarige seuntjie, Ezra in 2011 in 'n tref-en-trap ongeluk verloor. Die digbundel is by Fielies beskikbaar en bevat 70 gedigte.
Die amptelike bekendstelling van sy tweede digbundel vind op 27 Julie by die AGS-kerksaal, hoek van Heide- en Lobeliastraat, Riversdal tussen 13:00-16:00 plaas.
• Een van sy gedigte soos deur hom verskaf, verskyn op ons brieweblad. - Redakteur
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'