Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - 'n Klompie veteraanmotors wat op pad van Kaapstad na George se Oumotorskou was, het Vrydag 7 Februarie vir groot opwinding gesorg toe hulle ook hier aangedoen het.
"Die verlengde toer is vir die eerste keer in samewerking met die Suid-Kaap Oumotorklub en die Crankhandle-klub in Kaapstad aangepak.
Ons het Sondag die Kalkbaai-toer gedoen en na ons die karre Maandag versien het, Dinsdag vanaf Kaapstad die tog terug na George aangepak," het Philip Kuschke, wat die toer gereël het, gesê. Reënbuie het dié 15de Veteraantoer 'n uitdaging gemaak, want baie van die voertuie wat doerie tyd vervaardig is, se deure het nie ruite wat mens kan opdraai nie.
Fotogalery: Veteraantoer kuier in Riversdal
"Ons het so bietjie natgereën vanoggend," het Phillip Rosser, lid van die Suid-Kaap Oumotorklub gesê. "Ons ry maar stadig, so die oop karre veral is maar 'n natterige besigheid. Daar is nie ruitveërs nie en 'n mens moet in hierdie weer maar versigtig ry."
Kyk 'n video hieronder:
Onder die voertuie was ses Model T-Fords wat tussen 1909 en 1926 vervaardig is, 'n 1926 Lancia Lamda, twee Austin 7's, 'n 1911 EMF (die voorloper van die Studebaker) en 'n 1916 Dodge Brothers.
Onder die deelnemers was Eric en Linda Edwards van Ontario in Kanada wat hul 1911 Ford Torpedo op 'n sleepwa na George gebring het. "Die voertuig is opgebou uit die oorblyfsels van my pa se kar wat 10 jaar gelede uitgebrand het," het Eric vertel.
Peter Truter van Kaapstad in sy 1916 Dodge Brothers het ook deelgeneem. "Die voertuig is in Oktober 1916 gebou, maar amptelik eers in 1917 vrygestel," het hy vertel terwyl hy die reëndruppels afdroog en die brandstofvlak nagaan.
Die reisplan vanaf Kaapstad het 'n besoek aan die Honingklip-brouery by Botrivier ingesluit voor hulle Gansbaai toe is om daar te oornag. Woensdag het hulle oor Baardskeerders-bos en Bredasdorp gereis van waar sommige by Malgas die Breërivier met die historiese pont oorgesteek het.
Ander wat nie vir dié avontuur kans gesien het nie, het met die N2 na Buffeljagsdam gereis waar die groep oornag het. Donderdagoggend is hulle met die N2 na Heidelberg voor hulle die Ou Tronk en die Julius Gordon Africana-sentrum/Versfeld Huis op Riversdal besoek het.
Vrydag het hulle oor Herbertsdale en deur die Gondwana-wildreservaat na George gereis, waar hulle by die Gapp Cafe, die hoofborg van die toer, middagete geniet het. Saterdag en Sondag was hulle deel van die uitstalling by die skou.
So kry mens ’n ou kar met ’n slinger aan die gang. Foto’s: Tisha Steyn
Eric Edwards van Toronto, Kanada vryf die reëndruppels op sy 1911 Ford Torpedo droog.
Die statige ou motors het groot belangstelling in die dorp ontlok.
Lees 'n vorige artikel: Veteraanmotors kuier in Riversdal
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'