HESSEQUA NUUS - Suid-Kaap Forum het onlangs op Hessequa-munisipaliteit se webblad afgekom op 'n kennisgewing wat lui dat 'n inspeksie op 1 Maart 2022 by die Lapskuit-strandgebied en die oewersone van die Goukou-riviermond in Stilbaai gedoen is ten einde 'n lys van die verskillende ontspanningswatervaartuie wat verlate of onbewaak is, saam te stel.
'n Gedetailleerde lys met foto's van die verskillende vaartuie is saamgestel en dit is beskikbaar op hessequa.gov.za asook by die munisipale kantore en biblioteke op Riversdal, Heidelberg, Albertinia, Slangrivier, Gouritsmond, Witsand en Stilbaai.
Die wettige eienaars of gebruikers word kennis gegee om hul bote teen Vrydag, 6 Mei 2022 te verwyder. Indien dit nie voor dan verwyder is nie, sal die munisipaliteit stappe neem om die vaartuie verbeurd te laat verklaar.
Navrae kan nog tot 15:30 op 6 Mei ingedien word en moet gerig word aan die waarnemende munisipale bestuurder, Posbus 29, Riversdal, 6670, of gestuur word aan shagon@hessequa.gov.za of Phillip@hessequa.gov.za
Forum het afskrifte van die kennisgewing aangetref op paaltjies by Lapskuit, langs Waterblomrylaan en ook by die bootsleephelling.
Van die bote langs die rivier. Foto's: Johan Victor
Die rede vir die stap is dat sommige van die vaartuie toegegroei is, ander is deurgeroes en verweer en die houtwerk is verrot.
Dit skep 'n gevaar vir gebruikers en ander mense wat daar stap.
Van die bote het ook al vir 'n geruime tyd stilstaande water aan boord wat ook muskiete lok.
Die vaartuie het 'n negatiewe ekologiese impak op die oewersone en maak dit moeilik om die oewer skoon te maak.
Die stap is in lyn met Seksie 5 van die Hessequa-munisipaliteit se verordening oor die bestuur en gebruik van riviere wat spesifiek handel oor reëls vir bote en onbewaakte vaartuie.
Die munisipaliteit het onderneem dat sodra al die vaartuie verwyder is, 'n proses in plek gesit sal word om spesifieke areas daar te stel om watervaartuie te berg, asook 'n formele proses vir die bestuur van vaartuie.
Forum het met 'n aantal gemeenskapslede gepraat en almal sê hoewel dit jammer is dat hierdie karaktervolle bootjies gaan verdwyn, die stap sin maak.
Heelwat van die bote behoort heel moontlik aan vakansiehuiseienaars wat dus heel verbaas gaan wees as hulle later in die jaar op Stilbaai kom en sien hulle vaartuie het verdwyn.
Hopelik sal die munisipaliteit die bootjies wat nog gebruik kan word iewers stoor en daardie eienaars die geleentheid gee om hulle vaartuie op te eis.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'