Inwoners van die omgewing beweer dat daar nou ongeveer 2 000 voëls weens die droogte saans by die soutpan saamtrek en die lyn word hoofsaaklik so geraak. Daar is ook verlede week sewe dooie bloukraanvoëls en verskeie ganse opgetel en verwyder en heelwat beseerde voëls is ook opgemerk. Die voëls is normaalweg versprei oor die gebied by ander dammetjies wat tans leeg is, daarom die konsentrasie van voëls.
Mnr. Johan Jacobs, munisipale bestuurder verduidelik dat inwoners beweer dat die voëls vir die swaar voertuie skrik en dan opvlieg. "Eskom het blinkers aan die drade gehang om die voëls te waarsku, maar as gevolg van die digte Rooipitjiebome (Acacia cyclops ) en ander bosse langs die Soutpan sien die voëls dit nie".
Kraanvoëls en kragdrade
Die Endangered Wildlife Trust (EWT) is gemoeid met die bewaring en beskerming van veral beskermde spesies soos die bloukraanvoël. Een van die EWT se projekte is Cranes, Power lines and Energy Development wat daarop gemik is om die impak van die energiesektor op kraanvoëls en om maatreëls in plek te sit om bloukraanvrektes te verhoed.
Die projek het reeds deur middel van monitering getoon dat dit juis bloukraanvoëls is wat die ergste geraak word deur 'krag botsings' en word ook gesien as die primêre bedreiging.
EWT gesels met koerant
Suid-Kaap FORUM was in gesprek met mnr. Constant Hoogstad van die EWP se Wildlife and Energy Programme (WEP) rakende die kraanvoëlvrektes in Witsand. Hy het bevestig dat ongeveer 38 bloukraanvoëls en een flamink verlede week met 'n Eskom kraglyn gebots het. "Inwoners, natuurbewaarders en boere van Witsand was hoogs onsteld oor die voorval en het die insident aan die Eskom/Bedreigde natuurlewe vennootskap (BNV) aangemeld" .
Volgens Hoogstad het twee BNV-werkers 'n ter plaatse ondersoek gedoen om te bepaal wat die sterftes veroorsaak het en wat daaromtrent gedoen kan word. "Alle tekens het aangedui dat die voëls met die kraglyn gebots het wat verby 'n soutpan loop waar die voëls in die aand slaap". Hy verduidelik dat daar twee maniere is hoe voëls op kraglyne kan sterf. "Die eerste manier is as voëls doodgeskok word op kraglyne. As so 'n insident plaasvind gaan dit gewoonlik gepaard met 'n kragonderbreking, omdat die voëls dikwels die gaping tussen twee lewendige drade oorbrug of die gaping tussen die aarddraad en 'n lewendige draad. Voëls wat gewoonlik slagoffers van elektrokusies word, is meestal aasvoëls, groot arende en valke.
"Dit is spesies wat gewoonlik pale gebruik om vanaf te jag of op te sit en rus".
Die ander manier hoe voëls kan sterf op Eskomlyne is om fisies in die lyn vas te vlieg. "As die voëls in die lyn vasvlieg gaan dit nie gepaard met kragonderbrekings nie. In uiterse gevalle is dit moontlik dat 'n voël wat in 'n lyn vasvlieg twee van die lewendige lyne kan aanraak, maar dit is bitter skaars". Ten slotte noem Hoogstad dat die teenwoordigheid van beide bloukraanvoëls en flaminke onder die lyn toon dat dit beslis 'n kraglynbotsing was en nie 'n elektrokusie nie omdat bloukraanvoëls en flaminke nie op pale gaan sit nie. "So, dit is hoogs onwaarskynlik dat hierdie voëls kragonderbrekings kon veroorsaak".
* Die EWT vra die samewerking van alle boere en bewaringslui om enige kragbotsings en elektrokusies te rapporteer. Die direkte kontakpersoon is Constant Hoogstad by 082 334 4176.
Lede van die 'Endangered Wildlife Trust' buite Witsand om ondersoek in te stel na die bloukraanvoël kragbotsings. Foto's: verskaf deur Contsant Hoogstad.
ARTIKEL: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'