Die Stilbaai Beraad het Donderdag, 30 Oktober plaasgevind waar gedagtes gedeel is tussen die sowat vyftig verteenwoordigers van genooide belangegroepe, sakelui en organisasies betrokke by versorging en mediese fasiliteite, ontwikkelaars en plaaslike individue.
Rdl dr Joan Prins noem dat die munisipaliteit slegs as fasiliteerder en oorhoofse leidinggewer optree in die proses en dat die sukses afhang van die betrokkenheid van die hele gemeenskap om saam te werk en hande te vat.
"Dit moet verder beklemtoon word dat rakende ekonomiese ontwikkeling in Stilbaai, nie slegs op 'n aftreebestemming gefokus sal word nie. Dit is en bly 'n vakansiedorp, 'n leefstylbestemming vir jonger mense en 'n dorp met 'n veel dimensionele gesig".
Dr Karel Prinsloo en Roedolf Kay het as gassprekers opgetree.
Daar is gevind dat Stilbaai reeds gevestig is as aftreedorp, met 2 363 persone ouer as 65 jaar wat permanent op die dorp woon. Meer as 40% van die bejaardes in Hessequa woon op Stilbaai, Jongensfontein en Melkhoutfontein. 'n Knelvraag onder sommige inwoners bly steeds wat van hulle gaan word as hulle verouder, sieklik word en versorging benodig.
Die Beraad het gefokus op versorging- en behuisingsmodelle vir bejaardes, behoeftes van 'n dorp wat op die aftreemark wil fokus, asook die bemarking van die gebied as aftreebestemming.
Insette gelewer word tans verwerk waarna die pad vorentoe beplan sal word. Van die stappe wat in die vooruitsig gestel word, is 'n spesialis seminaar oor die aspekte wat deur die gespreksgroepe uitgelig is en 'n finale gemeenskaps Indaba in die eerste helfte van 2015.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Van links staan dr Karel Prinsloo (hoofredakteur Plus 50), Roedolf Kay (direkteur Abbey Fields), rdl.dr Joan Prins, rdl Emor Nel, Johan Jacobs (munisipale bestuurder en Marius Fourie (Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool en fasiliteerder van die gesprek).
ARTIKEL EN FOTO: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'