Hierdie is die 12de toevoeging tot Helpende Hand se skenkingskantore wat regoor die land versprei is.
Volgens Fanie Olivier, voorsitter van die plaaslike tak, sal die skenkingskantoor die verspreiding en koördinering van skenkings vergemaklik en hul meer toeganklik vir die gemeenskap maak. "Hierdie kantoor sal ons sigbaarheid in die gemeenskap versterk," sê hy.
"Nou is dit baie maklik vir persone in die gemeenskap om skenkings af te laai, meer oor Helpende Hand uit te vind of aan te klop vir hulp."
Dié skenkingskantoor vorm deel van die plaaslike Helpende Hand tak se visie om armoede in die gemeenskap te verlig, voorkom en te verbreek.
"Helpende Hand doen reeds wonderlike werk om armoede in Riversdal te identifiseer en aan te pak. Hierdie skenkingskantoor sal dit vir inwoners makliker maak om aan die gemeenskap terug te gee," sê Olivier.
Die Helpende Hand Riversdal-tak loods elke jaar talle nasionale en plaaslike projekte in die gemeenskap, waaronder die Bemagtig-'n-Kind projek.
Olivier vertel dat hierdie projek aan behoeftige kinders op allerlei maniere 'n hupstoot gee, byvoorbeeld deur ekstra wiskundeklasse of arbeidsterapie te befonds of om deelname aan sport of 'n sporttoer moontlik te maak.
"Daarby wil ons ook kinders in ons gemeenskap bystaan met studiehulp om tersiêre kwalifikasies moontlik te maak," sê hy.
"Helpende Hand het hierdie jaar meer as R16,6 miljoen se studielenings aan 948 studente toegeken. Deur rentevrye studielenings aan studente beskikbaar te stel, gee ons hulle die geleentheid om hul drome na te jaag, terwyl hulle terselfdertyd noodsaaklike vaardighede aanleer wat onmisbaar in ons ekonomie gaan wees."
Om meer oor Helpende Hand uit te vind of by die tak aan te sluit, skakel Olivier by 071 672 4781.
Vir 'n vorige nuusflits, klik hier.
Die vooraansig van Helpende Hand se skenkingskantoor wat in Kerkstraat 50, Riversdal geleë is, en Maandag, 4 Augustus hul deure geopen het.
ARTIKEL EN FOTO'S: ELIZE BLOM, SUID-KAAP FORUM JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa-nuus'