Gallery
STILBAAI NUUS - Die buurtwag en Coastal Clean Up het in 'n gesamentlike operasie 85 sakke vullis binne twee ure uit die beboste gebied tussen die gholfbaan en Jongensfontein-pad verwyder.
Die groep van 45 vrywilligers, asook wetstoepassers van Hessequa-munisipaliteit, het Vrydag 31 Maart by die hengelklub byeengekom, in spanne verdeel en gewapen met geel vullissakke die bosse ingevaar.
Die gebied word gebruik deur die haweloses in Stilbaai en omdat dit so bebos is, is hulle glad nie van die pad af sigbaar nie. Hulle modus operandi is blykbaar om onder 'n melkboom in te trek en die plek so te bemors dat dit nie meer leefbaar is nie.
Dan trek hulle eenvoudig onder 'n ander bos in en so raak hierdie gebied een groot vullishoop.
Suid-Kaap Forum se joernalis was by 'n groep vrywilligers wat onder een boom sewe groot vullissakke volgemaak het en die stank was ondraaglik.
Op 'n ander plek was daar planke en sinkplate wat eersdaags 'n struktuur sou wees en dit is duidelik dat hierdie besig is om in 'n permanente probleem te ontaard.
Daar is talle voetpaadjies en op plekke is beendere gevind wat blyk die van bokkies te wees wat daar doodgemaak en geëet is.
Vrydagmiddag het die buurtwag 'n kordon om die gebied getrek met voertuie as 'n magsvertoon en om te wys dat hulle ernstig is met die opruimaksie.
Soortgelyke operasies sal meer gereeld moet plaasvind om die gebied skoon te kry, maar die kern van die probleem is die talle haweloses en die probleem sal daar getakel moet word.
Die verskillende rolspelers sal bymekaar moet kom en 'n gekoördineerde plan opstel en uitvoer om te voorkom dat dit in 'n ramp verander. George Sabbagha van die hawegebied se buurtwag sê dat om vir hulle kos te gee nie die oplossing is nie. "Hierdie is 'n maatskaplike probleem en dit lok net meer en meer haweloses Stilbaai toe."
Ongelukkig is daar talle ander oop spasies in Stilbaai wat ook deur hulle gebruik word en van die haweloses is baie aggressief wat kan lei tot konfrontasie en wrywing en dit moet ten alle koste vermy word.
Harde besluite sal dringend geneem moet word anders gaan hierdie probleem handuit ruk.
Vorige artikel: Stilbaai word skoongemaak
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’