Update
HESSEQUA NUUS - Dwelmmisbruik kos die staat jaarliks biljarde, geld wat die land nie het nie. Dit verwoes baie jong lewens en breek gesinne uitmekaar.
Kaptein Johan van Tonder, stasiebevelvoerder van Stilbaai-polisie het besluit om standpunt in te neem.
"Met behulp van al my lede gaan ons hierdie euwel uitroei. Ons het egter die gemeenskap se hulp nodig en as enigiemand inligting het, moet hulle onverwyld vir konstabel Christiaan Zwiegelaar (082 378 8660) of die polisiestasie (028 754 6100) skakel. Die oproepe is vertroulik en informante kan sonder vrees kontak maak," gee hy die versekering.
Zwiegelaar haal 'n wêreldbekende Suid-Afrikaanse regter aan wat in die saak tussen die staat en Jimenez gesê het: "To stamp out the growing social evils of the abuse of drugs is a wise and laudible one. No doubt too, that, for example, a supplier for gain may in general be regarded as a vicious person who needs to be put down, for in the drug traffic he is an indispensable evil link in the chain leading to the consumer."
Dié jong polisielid het 'n passie daarvoor om dwelmhandelaars uit te snuffel en voor die hof te bring. "As jy met dwelms smokkel gaan ek jou vastrek en ek gaan seker maak jy beland agter tralies. So dwelmhandelaars, wees gewaarsku," sê hy.
Die saak teen Izak Smith en Michael-Lee Fielies vir die beweerde handeldryf in tik, is tot 16 Julie uitgestel. Geen borgtog is toegestaan nie.
Volgens Zwiegelaar gaan daar nog heelwat arrestasies volg.
In 'n ander onverwante saak is Alvin Saayman skuldig bevind aan bestuur onder die invloed van alkohol en roekelose bestuur. Saayman is 'n boete van R15 000 of 15 maande gevangenisstraf opgelê, asook R15 000 of 15 maande gevangenisstraf indien hy binne vyf jaar dieselfde oortreding begaan. Sy bestuurderslisensie is vir ses maande opgeskort. Vir verset teen arres is hy 12 maande gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar, opgelê. Hoewel hy 'n eerste oortreder is, is die feit dat hy voorheen 'n polisiebeampte was en hy homself teen arres verset het deur weg te jaag en in die proses 'n polisievoertuig beskadig het, verswarend in sy vonnis.
In die nag van 29 Junie is by Phumbile Civils, wat met opgradering by die sportgronde in Melkhoutfontein besig is, ingebreek.
Kragtoerusting ter waarde van tussen R20 000 en R30 000 is gesteel.
Die ondersoekbeampte, konst Marius Witbooi, bygestaan deur konst Rassie Erasmus het 'n wenk van die publiek opgevolg en twee persone is in hegtenis geneeem. Nog arrestasies volg binnekort. Al die gereedskap, behalwe 'n mediese kissie is teruggevind.
"Stilbaai-polisie gaan met ons volgehoue pogings en 'n gemeenskap wat betrokke is, ons streek misdaadvry kry," verklaar Van Tonder.
Dié kragtoerusting is deur Stilbaai-polisie se lede teruggevind.
Konstabels Marius Witbooi en Rassie Erasmus se flink opvolgwerk het twee vermeende diewe agter tralies.
Adrian Linton voor die hofgebou. Foto's: Johan Victor
Vorige artikel: Stilbaai-polisie verklaar oorlog
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'