Update
STILBAAI NUUS - Ignatius Martinus van Rooyen van Stilbaai het op 8 November sy 100ste verjaarsdag gevier.
Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, vergesel van Thinus van den Berg, wyksraadslid het Van Rooyen oftewel oom Inus Vrydag, 12 November besoek in die Carewell Versorgingsoord en 'n sertifikaat aan hom oorhandig.
Oom Inus is in Greytown gebore. Hy het 'n jonger broer gehad wat reeds oorlede is. Hy het sy loopbaan by die departement van lande in Pietermaritzburg begin, maar het bedank en op die familieplaas, Misgunst gaan boer. Hy word lid van die Ossewa Brandwag en leier van die Natalse Boerejeug.
Op 22 Maart 1947 tree hy in die huwelik met Nantie Dannhauser, sy ou maat vir 64 jaar. Sy het hom 10 jaar gelede ontval.
In 1954 word hy hoofbestuurder van die Natalse landboukoöperasie in Dundee en speel vir amper 50 jaar 'n leidende rol in Suid-Afrikaanse landbou.
Vanaf 1976 is Pretoria sy tuiste, waar hy eers direkteur van die koöperatiewe raad van die Suid Afrikaanse landbou unie is en later adjunk-direkteur van die SALU.
Hy het by meer as 35 Geloftedagfeeste as hoofspreker opgetree en is welbekend as 'n kenner van die geskiedenis van die Slag van Bloedrivier. Hy is ook mede-eienaar van een van die bronswaentjies in die Bloedrivier-laer.
Om 100 te wees
Sy lewenspassies is diens aan sy Skepper, gesin, kerk, volk en vaderland. Hy het 'n liefde en kennis van klassieke en operamusiek, asook tennis, volkspele, visvang en fotografie om maar 'n paar van sy stokperdjies te noem.
Sy kinders, kleinkinders en agter-kleinkinders is trots op hierdie patriarg van die familie. Hulle is dit eens dat hy vir hulle 'n onskatbare bron van liefde, kennis, ondervinding en wysheid is. Hy is 'n ware heer en legende.
Oom Inus en sy gesin stem saam dat matrone Sylvia, die verpleegsters en die versorgers van Carewell waar hy al vyf jaar woon, 'n wonderlike taak met liefde en omgee verrig. Sy dank gaan ook aan dokter André Botha, sy jarelange vriend en geneesheer.
Hierdie gesonde man wat nooit gerook het nie, sê dis net genade wat hom gesond hou, maar hy gee toe dat hy wel 'n mengsel van rissies, knoffel, uie en tamaties gebruik.
Op 'n vraag van die burgemeester oor hoe dit voel om 100 te wees, het hy gesê hy weet nie.
Toe hy Maandag voor die spieël staan het hy nie 'n ou gesien met plooie nie. Hy het ook nie 'n ou gesien met 'n boepie nie. Hy het ook nie iemand gesien wat krom loop nie.
Sy dogter Hanlie sê drie jaar gelede het hy haar eendag gebel en gesê dat hy haar by die huis wou kom sien.
Daar aangekom het hy sy hand uitgesteek en sy motorsleutels vir haar gegee, want hy het besluit hy gaan nie meer motor bestuur nie en dat sy die motor moet vat.
Rina van Aswegen, rdl Thinus van den Berg, Inus van Rooyen, die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles en Hanlie Lemmer (dogter). Foto: Johan Victor
Vorige artikel: Oom Inus vier 100 jaar
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'