Terwyl meeste inwoners gehoor gee aan die regulasies verbonde aan so 'n reservaat, is daar tog somtyds gevalle waar die beamptes genoodsaak word om op te tree teenoor oortreders. Vrydagoggend, 21 Maart is 'n 50 meter lange 'Gill'-net deur CapeNature en beamptes van die departement bosbou, landbou en visserye (DWAF) uit die Goukou estuarium gehaal.
Met navraag oor die voorval vertel Rico Menezies, van CapeNature dat hul gereageer het op 'n wenk van 'n lid van die publiek dat drie mans besig is om 'n lang 'Gill'-net te span oor die rivier. " 'n Gesamentlike operasie tussen CapeNature en die departement bosbou, landbou en visserye is geloods. Gelukkig het die net nie te veel vis bevat toe dit uitgehaal is nie en kon heelwat leervis teruggegooi word", het Menezies verduidelik.
Volgens Menezies is die impak van die nette op die ekologie van die area baie skadelik met groot getalle visse wat broei wat gevang word. Die oorgrote meerderheid vis wat op die manier gevang word, vrek weens versmoring. Dit is ook onwettig om in besit te wees van dié tipe vangnet, aangesien mens 'n spesiale permit benodig. Volgens Menezies is dit 'n ernstige oortreding wat onmiddelike arrestasie tot gevolg kan hê.
Hy doen 'n beroep op die publiek om paraat te wees en CapeNature (082 496 2522) of kusbestuur (028 754 1026) te kontak indien enige onwettige optrede in die natuur areas van Stilbaai opgemerk word. "Informasie sal vertroulik hanteer word en wil ons ook van die geleentheid gebruik maak om die persoon wat ons van die onwettige net verwittig het, te bedank vir sy parate optrede". Ten slotte nooi hy enige persoon wat in besit is van 'n onwettige 'Gill net' om dit by CapeNature in te handig sodat dit vernietig kan word sonder enige optrede teen die persoon.
Stilbaai se MBG
Stilbaai se beskermde mariene gebied strek vanaf Noordkapperpunt (Bosbokduin) aan die weste tot die Rietvleivywers aan die ooste. Die Rietvleivywers is nog 2.4km oos vanaf die oostelike grens van Geelkrans Natuurreservaat. Die Goukou Estuarium is ook in sy geheel ingesluit in die Stilbaai mariene beskermde gebied. Die seewaartse grens is op die verste 2 seemyl (4km). Die Stilbaai MBG bestaan uit twee gebruiksones. Die gekontroleerde sone en die beperkte sone. In die gekontroleerde sones word rekreasiehengel en aaskolleksie toegelaat, maar geen kommersiële aktiwiteite nie. In die beperkte sone word geen hengel- of aaskolleksie toegelaat nie.
Daar is drie beperkte sones
*Die visvywers by Noorkapperpunt (Bosbokduin).
*Die Goukou estuarium se beperkte sone begin 4.2km vanaf die mond net noord van die Olive Grove dam en strek tot aan die einde van die estuarium. Die wesbank van die estuarium is ook, in sy geheel, gesluit vir aaskolleksie.
*Die westelike grens van die Geelkrans Natuurreservaat tot by die Rietvleivywers aan die kus, en tot by die seewaartse grens van die MBG.
Die gekontroleerde sones sluit in: Die oorblywende deel van die MPA val in die gekontroleerde sone. Hierdie area sluit in Skulpiesbaai, wes van die Noorkappervywers, Morrispunt tot by die hawe asook die Lappiesbaai en Preekstoelstrande. Die estuarium is ook 'n gekontroleerde area vanaf die mond tot net noord van die Olive Grove dam (4.2km vanaf die mond) met die uitsluitsel van die westelike bank van die estuarium waar hengel wel toegelaat word, maar nie aas kolleksie nie.

'n Kaart voorstelling van die Stilbaai Mariene Reservaat (MPA).
ARTIKEL: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS