Update
HESSEQUA NUUS - Raynor Becker en Hugo Erasmus wat onlangs die kragbootwêreldkampioentitel tot hul name gevoeg het, het tydens 'n persoonlike gesprek met Suid-Kaap Forum meer van hul persoonlike ondervindinge vertel.
Hulle het drie wêreldkampioenskaptitels in die Pro Stockklas tydens die wêreldkragbootkampioenskap in Frankryk ingepalm en was ook algehele wenners.
Verlede jaar het hulle tydens dieselfde kampioenskap tweede plek gekry.
Becker se loopbaan het in 2015 begin en hy en sy span het sedertdien verskeie titels gewen. Hy vertel: "As span het ons vanjaar baie hard gewerk en toe die vrugte daarvan gepluk. Ons het in 1998 Stilbaai toe getrek en ek onthou nog goed hoe ek as klein seuntjie die vragmotors wat kragbote vervoer, dopgehou het wanneer hulle verby ons huis ry. Dan was dit Cape Agulhus-tyd en ons het strand toe gegaan om te kyk hoe hulle jaag. Op laerskool het ek vir my pa gesê dat ek graag eendag sal wil deelneem. Vandag staan ek hier en dit voel steeds so onwerklik om hierdie besonderse titel te kan dra."
Hoewel Erasmus Oudtshoorn altyd as sy tuisdorp sal sien, woon hy nou in Riversdal. As medejaer (co-pilot) help hy om die boot te navigeer en is dit sy verantwoordelikheid om die boot te balanseer en skuif hy heen en weer soos nodig. Dit is daarom dat hy vol skaafplekke is. Becker stuur die boot (pilot) en versnel wanneer dit nodig is.
Die twee oefen gereeld in Stilbaai en bly so ook fiks. Wanneer Erasmus nie in die water is nie, hou hy daarvan om met sy motorfiets op die stofpaaie spore te laat. "Al is my rug nog stukkend en hier en daar is 'n skaafplek, is alles die moeite werd. Ek het nooit gedink dat ons die wêreldkampioenskappe sou wen nie. Dit is 'n stokperdjie wat later in soveel meer verander het."
Alle watersport is vir hom 'n groot liefde en hy geniet enige soort aktiwiteit waar adrenalien betrokke is. Becker en Erasmus vang saam diepseevis, draf en ry ook fiets om die ander spiere geoefen te hou.
Van links in Rayno Becker en Hugo Erasmus na afloop van die prysuitdeling in Frankryk.
'n Vreesaanjaende gebeurtenis wat op Gansbaai plaasgevind het, sal hulle nooit vergeet nie: "Dit was baie mistig en ons moes eintlik plat lê terwyl ons ry. Ons het gelukkig op drie ander spanne afgekom. Terwyl ons ingeskakel het om die situasie te beskryf het ons bymekaar gebly en net rustig in die water gedryf.
"Met dié wat ons almal saam wag, swem daar 'n witdoodhaai teen die boot verby. Die boot is 4,2 m lank en daai haai was net so lank soos die boot. Ons het groot geskrik."
Hulle het al baie pikkewyne en walvisse tydens kompetisies en oefensessies gesien.
Dit was vir albei 'n lekker ervaring en solank daar borge is, sal hulle deelneem. As 'n span het hulle elke borg, ondersteuner en familielid bedank.
Lees 'n verwante artikel hier: Wêreldtitels vir Stilbaai
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'