Dieselfde tonele het in Swellendam en Riversdal afgespeel.
In Heidelberg het die rye voor die verskeie banke tot 200 meter ver gestrek. Van die hewig ontstelde begunstigdes het gesê dat elke agt of 10 mense kon hul geld gekry het, dan moes hulle weer sowat 'n half uur wag voor daar weer geld is vir die volgende handjievol mense.
'n Verpleegster van Swellendam wat verkies om anoniem te bly, vertel dat 'n bejaarde vrou buite Checkers flou geword het van heeldag in die warm son terwyl sy vir haar geld moes wag. Volgens die verpleegster word net agt mense op 'n slag by een kassier by dié winkel gehelp. Wat sake volgens haar vererger, is "dan is die kassier nog so tydsaam as wat kan kom".
Op Heidelberg het mense van plase al vanaf 06:00 dorp toe gekom om weer vroeg terug te gaan, maar van hulle was teen 14:00 nog in die lang rye. Van die ontevredenes het gesê dat SASSA maar weer na die ou stelsel kan teruggaan.
Fiela Roberts het gal gebraak omdat die rye so lank was. "Ons mense en veral die oues kan nie die hitte verduur nie. Hier is dan geen skuiling teen die son of koue in die winter nie," het sy ontsteld gesê.
Volgens die bankamptenare is dit nie hulle fout nie, maar liewer by CPS wie se stelsel nie die hoë volumes kan dra nie.
Saterdagoggend was die situasie by die verskeie banke in die dorp ook nie veel anders as die vorige dag nie.
Vir kommentaar by die CPS-kantoor in George genader, het 'n amptenaar gevra dat die mense net geduldig moet wees omdat hulle bewus was van die probleem en ernstig daaraan aandag sou skenk. Dié amptenaar het gesê die begunstigdes is welkom om SASSA te nader om weer volgens die ou stelsel betaal te word. Die areabestuurder van CPS, mnr. Michael Koopman was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Die vroue is van die begunstigdes wat Vrydagmiddag om 15:30 nog nie hul toelaes kon trek nie. Van links is Chevon September, Anne-Marie du Toit, Rebecca Davids, Johanna Oktober en Anneline Hendricks. Volgens September probeer hulle al van 09:00 om hul geld te kry sonder sukses. Foto: Clive Pretorius.