STILBAAI NUUS - Stilbaai se strate gaan Saterdag, 11 Desember vanaf 10:00 die veiligste in die land wees.
Die gemeenskapspolisieforum het 'n optog gereël waaraan die polisie, wetstoepassing, Hessequa-brandweerdiens, -verkeer, buurtwag- en plaaswaglede, NSRI en Werk vir Vuur-spanne gaan deelneem.
Hulle gaan deur die GPF-drilpeloton en trompoppies van Melkhoutfontein begelei word.
Die doel van die optog is bewusmaking van wat hierdie groep mense doen om ons veilig te hou. Baie daarvan vind in die nag plaas wanneer inwoners slaap of op afgeleë plekke waar hulle so te sê onsigbaar is.
Plaas- en buurtwagte ry patrollies met hulle eie voertuie en onkoste op tye in die nag wanneer almal behalwe die misdadigers slaap. Polisielede, wetstoepassing en verkeer is voortdurend in die spervuur en moet altyd beskikbaar wees met beperkte hulpbronne tot hulle beskikking.
Die NSRI, brandweerdiens en Werk vir Vuur plaas hulle eie lewens op die spel om ander te red.
Hierdie optog deur Stilbaai gee dus die geleentheid aan die inwoners en besoekers van hierdie pragtige dorp die geleentheid om waardering te wys en op die roete te staan.
Die optog begin by die Lion's klub langs die rugbyveld en eindig by Laerskool Bertie Barnard. Die meegaande kaart dui die roete presies aan.
Hier is die roete wat Saterdag, 11 Desember gevolg gaan word.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'