RIVERSDAL NUUS - 226 Leerders van die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal het die afgelope naweek (25 Januarie) na die Paarl gereis waar hulle aan die tradisionele somerinterskole teen Boland Landbou deelgeneem het.
Dit was ook die eerste geleentheid waartydens die jong Bulletjies hul talente op die sportveld kon beoefen en het beïndruk.
Die Oakdalers het baie goed op die tennisbaan vertoon en het die o.15- en o.19-spankompetisies gewen. Dit is duidelik dat die tennisakademie van mnr. Wimpie Helmand in samewerking met die Oakdale-afrigters vrugte afwerp. Die tellings lyk as volg: O.19A - Oakdale wen 6-0; o.19B: Oakdale wen met 44-38 potte; o.15A: Oakdale wen 6-0 en o.15B: Oakdale wen 5-1.
Ses krieketwedstryde is gespeel waar Boland die botoon gevoer het. Tog was dit die o.15 A-span wat hul wedstryd op indrukwekkende wyse gewen het. Die o.19 B- en o.15 C-span se wedstryde was tot aan die einde 'n naelbyt-stryd. Hoewel die o.19 A-span 'n goeie 192 lopies in 50 beurte aangeteken het, was dit net nie genoeg vir 'n oorwinning nie.
Dit was egter tydens die atletiekbyeenkoms waar die Oakdalers weereens hul staal gewys het en die Interskole-atletiek vir die tiende agtereenvolgende jaar met 783 punte teenoor Boland se 616 punte gewen het.
Oakdale atlete se entoesiastiese deelname het gesorg dat hulle drie van die vier ouderdomsafdelings wen.
Dit was veral Philip Kleynhans wat beïndruk het deur twee rekords in onderskeidelik gewigstoot, met 'n afstand van 17,01 m en skyfwerp, met 'n afstand van 51,4 m vir s.17 verbeter. Machs Hälbich breek die s.17 verspringrekord met 'n afstand van 6.74 m. By die s.15’s breek Markus Viljoen die 1 500 m in 'n tyd van 4:39.40; Pienie Pienaar 1 500 m stap- met 'n tyd van 7:43.00 en Marcel Strydom die hoogspringrekord met 'n hoogte van 1.72 m. Jared Erasmus breek sy eerste Interskolerekord in 300 m hekkies vir s.14 in 'n tyd van 42.50 s.
Oakdale stap weg met drie van die toptoekennings. Die beste veldatleet s.14 is JL van Rensburg in gewigstoot met 798 punte en Philip Kleynhans s.17, gewigstoot met sy 859 punte. Hendrik Victor is die beste baanatleet s.19 met 704 punte in die 110 m hekkies.
Interskole Tennis o.15
Agter, van links: O.15B - Lian la Cock, Drian Steyn, Jan Fick, mnr. Malan du Plessis (spanbestuurder) en Lukas Olivier. Voor: o.15A: Jan Heyns, Martin Mostert, Michael Mostert en Emilio Silva.
Interskole Tennis o.19
Agter, van links: O.19A - Mnr. Frans Marais (spanbestuurder), Elkan Willlemse, Gustav Smit, Jacobus Esterhuyse, Henk Smit en mnr. Wimpie Helmand (afrigter). Voor: O.19B - Pieter Marais, Hanno Joubert, FC Gerber en Johan Lamprecht.
Die o.15 A-krieketspan wen die Interskolekragmeting met 22 lopies. Agter, van links: Mnr. Pine Marais (afrigter), Stephen Meyer, Morné Scheepers, Emilio Silva, Duan Roberts, Gino de Wit en Terblanche du Plessis. Middel: Arend Blom, Francois Labuschagne, Dylan Morkel, Pienie Pienaar, Pieter Marais en Albert Steyn. Voor: Robert Scott (tellinghouer).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'