TUINROETE | KAROO NUUS - ’n Nuwe inisiatief om die sakegemeenskap in die Tuinroete saam te snoer is vandag, 21 April, begin. Dit staan bekend as die Garden Route Business Forum. Dit word as ‘n historiese geleentheid beskryf.
Dit volg nadat sakeleiers en verteenwoordigers van die sakegemeenskap in George bymekaargekom het en koppe bymekaargesit het.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer en ook voorsitter van die AHI, het as voorsitter/fasiliteerder van die geleentheid opgetree.
Die geleentheid is bygewoon deur verteenwoordigers van die Stilbaai-sakekamer, Hessequa-sakeforum, Mosselbaai-sakekamer, Greater Knysna Business Chamber, George Business Chamber, Thembalethu Business Chamber, Pacaltsdorp Community Business Association, Oudtshoorn-sakekamer, Oudtshoorn Outlet Taskforce en die Ladismith-sakekamer.
’n Taakspan is tydens die geleentheid saamgestel wat nou sal besin oor onder meer die werkswyse en spesifieke doelstellings.
Elke instansie behou sy eie identiteit en gaan voort soos normaal. Assosiasie berus op vrye keuse en dit word voorsien dat nog instansies betrokke kan raak. Dit sal die formele en informele sektore betrek.
Cilliers het gesê een van die doelstellings is om sakekamers en instansies in die gebied te laat saamwerk.
Voorts om die ekonomie in die streek te bevorder en te laat groei.
Daar sal ook gekyk word na skakeling met die onderskeie owerhede soos die munisipaliteite en die distriksmunisipaliteit.
Dr. Willie Cilliers aan die woord tydens die geleentheid vanoggend. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'