STILBAAI NUUS - Die AGS Lofdal het Vrydag 9 Maart vir past. Kobus van Zyl en sy vrou, Annelene, amptelik welkom geheet.
Daar is ook van past. Jan en Elsa Kleynhans afskeid geneem ná hul 15 jaar diens in Stilbaai, wat deel uitgemaak het van 42 jaar se voltydse diens in die bediening.
Die funksie het 'n volgepakte saal getrek met verskeie uitgenooide gaste, insluitende die burgemeester, Grant Riddles, wat op verskeie vlakke nou met Kleynhans saamgewerk het.
Riddles het Kleynhans vir sy betrokkenheid in die hele gemeenskap bedank en vir die verskil wat hy in lewens gemaak het.
Kleynhans was betrokke by die optog teen dwelms in Melkhoutfontein, asook by die heel eerste Langtafel van Vrede-ete wat reeds die afgelope drie jaar in Melkhoutfontein aangebied is.
Nadat hulle vir jare gereelde vakansiegangers op Stilbaai was, is die Van Zyl-egpaar, wat die afgelope 20 jaar by die Klein Karoo-gemeente op Oudtshoorn was, nou permanente inwoners hier en Van Zyl is Sondag by AGS Lofdal bevestig waar hy ook sy intreepreek gelewer het.
Lees 'n verwante artikel: AGS Stilbaai neem afskeid van Pastoor
ARTIKEL & FOTO: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'