Update
HEIDELBERG NUUS - Dié dorp spog nou met een van die mees modernste veiligheidshuise vir vroue in die Wes-Kaap.
Mosaic (Mosaic Training Service and Healing Center), 'n nie-regeringsorganisasie moet hulself beywer om vir vroue wat aan geslagsgeweld en mishandeling blootgestel word, 'n veilige hawe te bied.
Die organisasie het die ekstra myl geloop om ook die vroue te bemagtig om beter vir hulself te sorg wanneer hul tydperk by die veiligheidshuis verstryk het.
Mosaic het op Vrydag 7 Oktober die Peonies Learning and Development Centre by hul veiligheidshuis in Van Riebeeckstraat geopen, waar vroue tydens hul verblyf hulself kan bemagtig om die arbeidsmark te betree wanneer hulle die skuiling verlaat.
Verskeie rolspelers, waaronder regeringsdepartemente, justisie, maatskaplike dienste, die SA polisiediens, Hessequa-munisipaliteit, asook verteenwoordigers van die Karuna Charitable Foundation Trust - Peonies se donateur - het die openingsgeleentheid bygewoon.
Tinus van der Berg, Hessequa-onderburgemeester het tydens sy toespraak benadruk dat die skuiling soveel vir hom beteken omdat 'n dak oor enige mens se kop seker die mees belangrikste ding in die lewe is.
Met verwysing na die waardigheidswinkel het hy gesê dat enige mens daarop geregtig is om waardigheid te ervaar en dat dit belangrik vir vroue is om weer met nuwe hoop die wêreld in te gaan.
Volgens adv. Tarisai Mchuchu-MacMillan, uitvoerende direkteur van Mosaic, is die "Peonies-huis vir vroue 'n leer- en ontwikkelingsentrum in die Eden Karoo-distrik waar hulle daarna streef om 'n holistiese diens te verskaf."
Mchuchu-MacMillan noem verder dat met die finansiële ondersteuning van die Trust, die Peonies-skuiling nou sielkundige ondersteuning, sowel as vaardigheidsopleiding kan bied.
"Hierdie unieke kombinasie van sorg, help om te verseker dat vroue wat toegang tot die skuilingdienste verkry, hulself finansieel kan bemagtig deur óf vaardighede te ontwikkel waar hulle meer diensbaar kan wees, óf dat hulle hul eie besigheid kan begin deur entrepreneurskapontwikkeling," het Mchuchu-MacMillan gesê.
Volgens haar fokus die leer- en ontwikke-lingsentrum op drie sleutelkomponente.
Een is rekenaar-opleiding. Die rekenaar-opleidingsentrum is met lessenaars en 'n opleidingspasie vir vroue en kinders toegerus om toegang tot ander opvoedkundige kursusse te kry, met 'n spesifieke fokus op geletterdheid en syfervaardigheid.
"Daar is 'n groot klem op entrepreneurskap en die skep van bemagtigde omgewings vir vroue in die landelike dele van die Eden Karoo-distrik om hul eie inkomstestrome te skep."
Tweedens is daar ook 'n leer- en speelkamer vir kinders en derdens 'n waardigheidswinkel. Volgens Mchuchu-MacMillan kan die kinders tydens hul verblyf by die skuiling dan weer die geleentheid gegun word om net kind te wees terwyl hul ma haarself bemagtig en versterk en haar volgende stappe vir haar en haar kroos beplan.
Die waardigheidswinkel is 'n plek waar vroue, wat geforseer was om hul huise met net die klere aan hul lyf te verlaat, vir hulself klere, skoene en ook speelgoed vir hul kinders kan uitsoek.
Dít, volgens Mchuchu-MacMillan, is 'n plek waar jy nie voel dat jy bakhand hoef te staan nie, maar 'n plek waar jy as vrou en ma in die meeste gevalle in beheer bly van wat jy en jou kind dra.
"Ons poog om hulle die beheer terug te gee wat hulle voel hulle verloor het binne 'n beledigende verhouding."
Mchuchu-MacMillan het almal teenwoordig bedank vir hul ondersteuning, maar veral vir Marina Busse van Karuna uitgesonder vir hul groothartige bydrae tot die totstandkoming van Peonies.
Adv. Tarisai Mchuchu-MacMillan, uitvoerende direkteur van Mosaic (middel), saam met van links: sers. Desiree van Deventer, sers. Imorgene Hendricks, sers. Loretta Gordon, Heidelberg-kliniekbestuurder, en kapt. Noxolo Rulwa, Heidelberg-vispolbestuurder.
Die groep rolspelers het deel uitgemaak van die verteenwoordigers wat die opening van Peonies se leer en -ontwikkelingsentrum bygewoon het. Foto: Clive Pretorius
Vorige artikel: Nuwe hoop vir gekweste vroue
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'