ALBERTINIA NUUS - Samuel Crowley is as die nuwe hoof van Albertinia Hoërskool aangestel en het met die aanvang van die nuwe kwartaal sy dienste begin.
Crowley se vorige pos was onderhoof van Kretzenhoop Primêr in George, waar hy sy skool- loopbaan as jong seun begin het. Hy was tot onlangs die waarnemende hoof van dié skool en word hoog aangespreek oor sy gemeenskapsbetrokkenheid.
Hy het die skoolregisters dopgehou en wanneer 'n leerder langer as twee dae afwesig was, het hy self ondersoek by hulle huise gaan instel. Op dié manier het 'stokkiesdraai' verminder.
Oor die uitdagings wat voorlê is hy baie gefokus om die samewerking van leerders en hulle families te bewerkstellig en die gemeenskap by skoolaktiwiteite betrokke te maak.
Volgens Crowley vorm basiese waardes soos respek 'n inherente deel van samewerking tussen almal. Sy vyf jaar- plan sluit die stabilisering van kurrikulum, leerdergetalle groei, vakkeuses te behou en versterk, asook 'n vaardigheidskomponent by die kurrikulum te voeg.
Hy sê: "Wiskundevestiging met jong leerders, graad R tot graad 9, moet in hulle vormingsjare begin en dan in hulle tienerjare versterk word. Om eers in graad 10 te probeer is te laat."
Die beskeie man is 'n Jazz liefhebber en 'n gereelde besoeker aan die KKNK, waar hy graag aan debatte deelneem en musiek luister.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'