Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Kleuter het Maandagmiddag, 6 Februarie, ongeveer 14:20 'n noue ontkoming gehad toe hy in Joe Slovo Park ná bewering onder 'n motor beland het.
Luciano Jacobs (6), 'n gr. R-leerder van De Waalville Primêr, het uit 'n spazawinkel op die hoek van Mervyn Joseph en Van Niekerkstraat gehardloop toe hy glo in die motor vasgehardloop het.
Hy is aanvanklik deur 'n plaaslike klinieksuster op die toneel behandel totdat die ambulans later opgedaag het.
Luciano en sy ma, Chantelle, is per ambulans na die Riversdal-hospitaal geneem waar vasgestel is dat sy linkerarm, tussen die skouer en elmboog, gebreek is en dit toe gespalk is. Hy het ook beserings aan sy gesig en regterskouer opgedoen en is Dinsdagoggend ontslaan.
Volgens sy ma word hy Maandagoggend, 13 Februarie, in die George-hospitaal opgeneem waar daar aan sy arm geopereer gaan word.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike mediabeampte, word daar 'n klag van nalatige en roekelose bestuur ondersoek.
Hendricks rig ook 'n dringende versoek aan ouers of hul versorgers om nie sommer jong kinders sonder behoorlike toesig winkel toe te stuur nie.
Sy het ook motoriste versoek om baie versigtig te wees, veral in die woonbuurte.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'