HEIDELBERG NUUS - Kersvader het vroeg hierdie jaar by die Heidel Senior Burger-klub aangedoen om 'n groot geskenk af te laai.
Eintlik twee groot geskenke, want op Woensdag 31 Julie is 'n groot yskas en stoof, wat deur Hessequa-munisipaliteit geskenk is, deur die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, aan die klub oorhandig.
Uitroepe van blydskap en verbasing het gevolg toe die kartonne oopgemaak en almal kon sien wat die inhoud is.
Riddles het gesê dat dit die grootste geskenk nóg deur die munisipaliteit aan enige instansie was.
Die lede het vir vier jaar in 'n dubbel-motorhuis op die perseel van die gemeenskapsaal bymekaargekom. Riddles het die versekering gegee dat enige losstaande struktuur soos 'n Wendy-huis of skeepsvraghouer (container) deur 'n besigheid geskenk, enige tyd weer verwyder kan word indien die klub na 'n ander perseel verskuif.
Hy het die klub geloof vir die wyse waarop hulle aan die jaarlikse sportdag op Vrydag 26 Julie op Melkhoutfontein deelgeneem het.
"Dis altyd goed dat geleenthede soos sportdae die oues in die gemeenskap bymekaarbring om mekaar te leer ken en 'n tydjie in mekaar se geselskap deur te bring," het hy gesê.
Merle Paige het Riddles namens die lede bedank en hom belowe dat sy uitnodiging vir tee en koek sal kom sodra die Wendy-huis staan.
Die senior burgers het met vele drukkies en goedige gespot van hom afskeid geneem.
Rdl. Grant Riddles snoesig tussen die Heidel Senior Burger-klublede. Die stoof steek links op die foto uit en die yskas agter. Foto: Alex Marshall, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'