SUID-KAAP NUUS - Die regering het R25 miljoen vir droogtehulp in die Tuinroete- en Sentraal-Karoogebiede bewillig.
Dit is addisioneel tot die geld wat in die nasionale begroting daarvoor opsygesit is.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaap se minister van landbou, het die nuus verwelkom. "Die geld sal gebruik word om die invloed van die droogte ietwat te verlig en broodnodige hulp aan boere in die gebiede wat die ergste geraak word, te verleen."
Die hulp sal onder meer vir veevoer in gebiede wat krities droog is, water en heinings, die verwydering van uitheemse plantegroei en die toepassing van bewaringsboerdery voorsiening maak.
Volgens hom word voorspel dat die provinsie weens klimaatsverandering 'n meer wisselvallige reënpatroon en erger droogte te wagte kan wees. "Die invloed hiervan sal versag moet word deur natuurlike hulpbronne soos grond, water, plante en vee beter te bestuur. Volhoubare hulpbronbestuur sal die ekonomiese lewenskragtigheid van die landbousektor verbeter."
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het die droogte-ondersteuning vir die Sentraal Karoo en Tuinroete-distrik, waar die droogte al ses jaar voortduur, verwelkom.
"Ons wil weet hoe die bedrag tussen die onderskeie projekte waarvoor die geld geoormerk is, ingedeel gaan word en wat die bedrag is wat na veevoer vir produsente gaan. Projekte om die uitwerking van die droogte te versag is eweneens noodsaaklik en ons het waardering vir die provinsiale landboudepartement se visie om belangrike ingrypingsprojekte soos bewaringslandbou en die uitwissing van indringerspesies aan te pak," sê hy.
Volgens hom is die droogtetoestande in die Kliprand- en Bitterfontein-omgewing in die Weskus-distrik, waar die droogte al net so lank voortduur, ook kritiek. "Selfs met goeie reën dié winter gaan die natuurlike weiveld hier etlike jare neem om te herstel."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'