Update
STILBAAI NUUS - "Ek het klaar my aanvaller vergewe."
Dit is die woorde van oud-dominee Piet Hugo (88) wie se middagslapie verlede week ru onderbreek is toe 'n onbekende aanvaller hom van agter oor die kop geslaan het.
Hugo was Woensdagmiddag 27 Februarie alleen in sy huis, nadat sy vrou lughawe toe vertrek het om 'n vlug te haal vir die bywoon van 'n doop in die familie.
Hy het die huis se alarms aangeskakel en gaan lê om 'n uiltjie te knip. Die volgende waarvan hy bewus was, was die gevoel van bloed wat in sy nek afloop.
Hy het sy alarm se paniekknoppie gedruk en die polisie gebel. Die polisie en die NSRI was baie vinnig op die toneel en laasgenoemde het sy kopwond daar behandel voor hy na 'n plaaslike spreekkamer geneem is, waar hy 12 steke is sy kop moes kry.
Hy het heelwat bloed verloor en groot geskrik, maar sy lewensvreugde en naasteliefde bly onaangetas. Hy het aan Suid-Kaap Forum gesê dat hy nooit eens regtig kwaad was nie.
Hy het geen idee wie dit kon gewees het nie, want hy kan aan niemand dink wat 'n wrok teen hom sou dra nie. Sy kleinseun Hugo van Dyk, is vanuit die Kaap in Stilbaai om sy oupa by te staan.
Ds. Piet en die hele familie het net die diepste dank en waardering vir almal wat hom bygestaan het.
Hulle bedank ook die gemeenskap van Stilbaai en alle vriende en belangstellendes wat hom oorval het met besoeke en goeie wense.
Kapt. Johan van Tonder, stasiebevel-voerder: Stilbaai-polisie het gesê dat die motief van die aanval nog onbekend is, maar dat die polisie kort na die voorval 'n persoon vir ondervraging aangehou het. "Hy kan egter nog nie met die misdaad verbind word nie. Die polisie is nog besig met die ondersoek vir forensiese leidrade."
Lees 'n vorige artikel hier: Bejaarde in huis aangeval
Lees ook korrespondent Alex Marshall se berig oor geweldsmisdade wat besig is om toe te neem hier: Heidelberg steeds erg geskok
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'