RIVERSDAL NUUS – Verskeie uitdagings en struikelblokke kon nie die deelnemers aan vanjaar se nasionale akrobatiese danskompetisie op die dorp stuit nie.
Die danser en afrigter Anwyn Winterbach en haar akademie AADA (Anwyn’s Acro Dance Academy) op Stilbaai is vanjaar die gasheer van dié nasionale danskompetisie.
Die wisselvallige, beserings en 'n inbraak het verrigtinge amper belemmer.
"Hoewel die polisie ná die inbraak Maandagnag by die dansers se kleedkamers twee verdagtes in hegtenis geneem en die meeste van die gesteelde goedere aan die organiseerders terugbesorg het, is van die spesiale kostuums nog nie teruggevind nie.
Ons moes omtrent oornag plaasvervanger-kostuums in Durban laat maak. Dit is gelukkig per koerier betyds op Riversdal afgelewer om vanaand se gala-vertoning moontlik te maak," sê Annette Matthee, namens die Intergrated Artistic Acrobatic Association of South Africa, wat dié kompetisie aanbied en onderskryf.
Boonop het nóg 'n dief gister probeer inbreek. "Gelukkig is hy op heterdaad betrap en vasgevat nog voor hy kon inkom," sê sy.
Die beoordelaars het die beste dansers in verskeie kategorieë geëien en alles is gereed vir die galavertoning, prysuitdeling en glansgeselligheid wat vanaand sesuur begin.
Kaartjies kos R30 elk.
The Score – met Dané Cronjé, Marli Matthee en Ruchelle Erasmus - is tussen die 180 deelnemers van sewe dansskole regoor die land wat vanaand in Riversdal se burgersentrum optree. Foto: Anwyn Winterbach, AADA.
Verwante artikel: Diewe pootjie nie dansers nie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’