HEIDELBERG NUUS - 'n Huis wat al etlike jare leeg en vervalle staan, is soos 'n doring in die vlees vir die inwoners van Burnstraat in Heidelberg, veral vir die Saayman-gesin wat regoor die huis bly.
Volgens Marlisia Saayman is dit nie meer 'n plesier om saans en veral oor naweke tuis te wees nie, en van 'n goeie nagrus is daar nie sprake nie.
Sy vertel dat daar gedurig jongmense is wat hul "plesierigheid" kom bedryf en dat hulle die aktiwiteite moet verdra sonder dat daar teen die lawaaimakers opgetree word.
"Ons is keelvol vir wat ons moet verduur."
Saayman noem verder dat 'n jongman hulle huis onlangs bestorm en hul posbus van die houtstut waaraan dit geheg was, afgebreek het. Dit glo na hulle hom aangespreek het om nie so tekere te gaan by die huis oorkant hulle nie.
"Ek het vir my lewe gevrees toe hy soos 'n besetene ons huis bestorm het."
Volgens Saayman is die perseel van 'n boedel waarvan die regmatige eienaars jare gelede gesterf het.
"Hul kinders of kleinkinders is iewers in Kaapstad en kom weinig Heidelberg toe." Sy noem verder dat dit wil voorkom asof hulle nie regtig belangstel om die nodige prosedures te volg om eienaarskap te bekom nie.
Suid-Kaap Forum het sowat vier jaar gelede ook oor die leë huis en perseel berig na 'n 30-jarige vrou van Slangrivier glo wreed deur 'n 18-jarige jongman in die huis aangerand en verkrag was.
Die Saayman-gesin en van hulle bure vrees dat nog verkragtings en dalk moorde daar kan plaasvind.
Die bouvallige huis kan moonlik ook op iemand intuimel, wat ernstige beserings of die dood tot gevolg kan hê.
Marlisia Saayman staan in hul huis wat regoor die plek van onheil is. In die voorgrond is die posbus wat beskadig is. Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'