Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Jongman van dié dorp is agter tralies nadat hy na bewering 'n 30-jarige vrou in 'n verlate huis verkrag het na 'n kuiery op Saterdag 30 September.
Die 18-jarige man is borgtog geweier en bly in aanhouding.
Volgens inligting deur die ondersoekbeampte tydens die formele borgtogaansoek, het die beskuldigde saam met die vrou van Slangrivier en ander by vriende se huis in die Oos-Dorp gekuier toe hul drank in die vroeë oggendure blykbaar opgeraak het.
Die beskuldigde het aangedui dat hy drank by sy huis het en gevra dat die slagoffer hom vergesel om dit te gaan haal.
Hy het haar by 'n huis in Burnstraat ingeneem nadat hy haar glo verseker het dat daar mense in die huis is, waarna hy haar klaarblyklik wreed aangerand en verkrag het.
Tydens die ondersoek is egter vasgestel dat dit 'n verlate huis is.
Die verlate huis in Burnstraat op Heidelberg waar die vrou van Slangrivier na bewering verkrag is. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Die slagoffer is na die voorval na haar ouerhuis in Diepkloof en die polisie is in kennis gestel. Sy is daarna deur 'n geneesheer ondersoek is.
Die ondersoek het bevestig dat die slagoffer aangerand en verkrag is.
Die landdros het borgtog geweier en uitgewys dat dit 'n ernstige bylae 6-misdryf is. Die saak is tot 7 November uitgestel.
Lees 'n vorige artikel: Jongman vir verkragting aangekeer
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'