HEIDELBERG NUUS - Die gemeenskap het hulle oor 'n groep van 28 kinders van Herberg-kinderhuis ontferm en hulle met 'n vakansiekamp vanaf 4 tot 10 Desember bederf.
Die kamp het op 'n pragtige plaas tussen klowe en waterpoelle net buite die dorp plaasgevind. 'n Groep vrywilligers, onder leiding van Marius de Beer het die kamp aangebied.
Dié jaarlikse instelling het reeds in 2010 ontstaan as gevolg van 'n behoefte onder kinderhuiskinders wat nie tydens vakansies uitgeplaas word nie.
Daar word op donasies vanuit die gemeenskap staatgemaak en De Beer vertel met groot passie hoe almal saamwerk om hierdie kamp te laat realiseer.
"Soos ek nou hier staan is die etes vir volgende jaar reeds vasgemaak. Verskillende groepe mense uit die gemeenskap kom maak elke aand vir die kinders kos."
Die kinders word met heerlike braaivleisetes en genoeg lekkernye bederf.
"Ons probeer om elke jaar vir hulle iets anders aan te bied. Die kamp groei jaarliks en meer mense raak betrokke."
Smiley Cronje sorg dat die vleis lekker gebraai word.
De Beer maak tans op 'n groep van 17 leiers staat wat help om kampaktiwiteite aan te bied. Een van die kinders (18) vertel dat die kamp vir hom geweldig baie beteken.
"Dis iets om na uit te sien, want mens sluit die jaar op 'n hoë noot af en jy het 'n kans om kwaliteittyd met jou kinderhuisbroers en -susters te spandeer.
"Dankie aan oom Marius wat die verantwoordelikheid neem om vir ons pa te staan. Ek weet dit kan nie maklik wees nie en daarom is ons ook dankbaar vir almal wat gehelp het."
Volgens een van die kampleiers Johan Mostert, het die kamp groot waarde en het elke jaar verskillende uitdagings.
Groot opgewondenheid heers op die laaste aand van die kamp, want Kersvader kom die kinders besoek.
Marius de Beer bedank almal wat die kamp help realiseer het.
Elke kind gee 'n wenslys voor die tyd en word gepoog om hierdie lys binne redelike perke na te kom uit donasies van die gemeenskap.
Laataand hoor jy ver in die klowe die klok van Kersvader lui en 'n kort man met 'n wit baard en 'n hart van goud ry agterop 'n bakkie met 'n sak vol geskenke.
Die kinders kan hulle opwinding nie meer keer nie en mens kan nie anders as om net 'n dankbare hart te hê vir mooi gebeurtenisse soos hierdie nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'