Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - 'n Projek om Melkhoutfontein Primêre Skool te transformeer na 'n skool van waardes, is die breinkind van een van die opvoeders, Tamsin Manuels.
Koppe is bymekaargesit en daar is besluit om die T2P-projek visueel in die vorm van 'n kunswerk te omskep, sodat die leerders elke dag daarna kan kyk en die waardes kan uitleef.
"Om gedurig teen iets vas te kyk, is om dit te onthou en daarom het die idee ontstaan om iemand te vra om dit in 'n kunsvorm op twee van ons mure waar die kinders in die vierkant aantree, aan te bring," vertel Tamsin.
Die skoolhoof, Ruby Flores het dit honderd persent ondersteun.
'n Plaaslike kunstenaar, Leatitia Loots is genader, wat haar dienste gratis aangebied het. Sy is bygestaan deur Tania Harmzen en Chantell Murray. Leatitia moes eers heelwat skuur- en skaafwerk aan die projek doen voor hulle dit met kwas en verf kon verewig, maar dit was nie lank voor dit gestalte gekry het nie.
'n Boom, waarop al die waardes waarvoor die skool staan aangebring is, is op die een muur aangebring - soos dankbaarheid, aanspreeklikheid, betroubaarheid, omgee, hulpvaardigheid, verbintenis, lojaal, geduld, respek, netheid en so meer.
"Die hande onder die boom staan vir die onderwysers, met ander woorde die fondasie van die skool; die toekoms van die kinders wat die boom is. Die son verteenwoordig die hoof, die lig wat op die boom (leerders en onderwysers) skyn," vertel Tania, wat saam met Chantell die boom geskilder het.
Op die teenoorgestelde muur is 'n vissersboot met vissermanne deur Leatitia geskilder. Dit verteenwoordig die historiese gebeurtenis van die Wafra waar talle vissermanne van Melkhoutfontein hul lewens verloor het. "Ek voel geëerd dat die skool my genader het om die kunswerk vir hulle te doen, omdat Stilbaai oor soveel kunstenaars beskik," het sy gesê.
Volgens Tamsin is hulle baie dankbaar vir die driestuks se harde werk, omdat baie liefde, tyd en laat aande ingesit was. "Daar is werklik soveel detail, veral in die vissersboot met die ys in die bak waar die visse in is, mens kan sien dis nie net afgejaag nie."
Die projek is op Vrydag, 23 April voltooi.
Vorige artikel: Skool van waardes
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'