STILBAAI NUUS - 'n Paar besighede het nou genoeg daarvan gehad dat sigaretstompies voor hul deure doodgedruk of -getrap en net daar gelos word.
Dié besighede het met 'n plan vorendag gekom om dié probleem in 'n mate hok te slaan, deur toppiepype by hul besighede aan te bring.
Die eienaar van die loodgieter- en badkamerbesigheid Cape Plumbing & Bathroom Stilbaai, Jacques Westcot, het 10 plastiek waterafvoerpype geskenk, met Stilbaai Kelders wat bykomende pype geskenk en die eerstes reeds opgesit het.
Dié pype word met plastiekkabels vertikaal aan 'n paal of pilaar vasgebind en sigaretstompies word daarin gegooi. Om dit leeg te maak, word 'n toeskroefdeksel aan die onderkant afgeskroef.
Besighede word aangemoedig om dié toppiepype aan te bring en die projek te ondersteun om sodoende 'n bydrae te lewer tot 'n skoner Stilbaai.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'