STILBAAI NUUS - 'n Jong walvis het Sondagaand, 13 Februarie op Sandstrand by Jongensfontein uitgespoel. Van die mense op die strand het probeer om hom in die water terug te kry, maar die rotse en laagwater het dit onmoontlik gemaak.
Die walvis was maer en vermoedelik siek, volgens Jerome Kannemeyer van CapeNature op Stilbaai.
"Dit was 'n Langvinloodswalvis wat gisteraand daar gestrand het en hy is intussen dood. Dit is nie buitengewoon vir walvisse om te strand nie, maar ons weet nie hoekom hulle dit doen nie.
"As hulle teruggeplaas word in die water, strand hulle net weer. Daar was al gevalle waar die walvisse met bote uitgery word, maar dan strand hul weer," het hy verduidelik.
Hy het bygevoeg dat hulle monsters van die walvis neem en dit na die departement omgewingsake vir data analiese stuur. "Soms kom personeel van die departement self uit om die monsters te neem en partykeer word die walvis saamgeneem."
In die geval waar die dooie walvis nie deur die departement omgewingsake weggeneem word nie, raak die munisipaliteit van die karkas ontslae sodra al die nodige monsters geneem is.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'