STILBAAI NUUS - Jagersbosch se algemene jaarvergadering het Woensdagmiddag, 5 Junie, in koue, reënerige toestande by Die Waenhuis plaasgevind, maar na afloop daarvan kon almal 'n glasie sjerrie geniet.
Daar was baie om te vier aangesien die Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum die afgelope jaar, ten spyte van talle uitdagings, uitstekend presteer het.
So is die aansienlike tekort van die vorige jaar uitgewis en in 'n surplus omgeskakel, wat in die volgende jaar vir broodnodige herstel- en onderhoudstake aangewend moet word.
Die voorsitter van die direksie, Izak Venter, het almal wat tot die suksesvolle jaar bygedra het, hartlik bedank.
Die skuif van die tweedehandse winkel na Urheim, een van die oudste geboue in die dorp, het ver bo verwagting gepresteer. Danksy die harde werk van 16 vrywilligers, skenkings en ondersteuning van die gemeenskap het die winkel 'n inkomste van R97 000 ingebring.
Die samevoeging van die kombuisfasiliteite van Die Waenhuis en Melkhoutfontein, tesame met die aansienlike opgradering van die Waenhuis-kombuis, asook die nuwe personeel aan die stuur, het ook 'n groot verbetering teweeg gebring. Die algehele higiëniese standaard, hoër produktiwiteit en kwaliteit van die voedsel het goeie kommentaar uitgelok. Sanet van Deventer en haar kombuispersoneel is bedank vir die addisionele fondsinsamelingsinisiatiewe wat hulle onderneem het. Dit het heelwat tot die goeie finansiële prestasie bygedra.
Venter het 'n opsomming gegee van die groot aantal gesondheidsorgdienste wat die gesondheidsorgpersoneel verrig het.
Hy het spesifiek die 48 gevalle waar noodoproepe hanteer is, uitgewys as een van die mees waardevolle dienste. Jagersbosch hoop om hul tuisversorgingsdiens in die toekoms verder te verbeter.
Die sameroepers vir die buitekombuis, Coleen en Ernie Cerruti, wat gereeld elke maand die buitekombuis en pannekoek-bak by die Spar behartig, het ook vermelding gekry. Al hierdie projekte het uiteindelik meer as R200 000 tot die surplus van R423 677 bygedra.
Jagersbosch se infrastruktuur instandhouding het ongelukkig vir baie jare nie genoeg aandag gekry nie en het derhalwe geleidelik agteruit gegaan. Dup van Renen (direkteur: instandhouding) het die afgelope jaar reeds 'n groot verskil met die instandhoudingsprojekte gemaak wat by Die Waenhuis en Melkhoutfontein deurgevoer is. Daar word beplan om ongeveer R332 000 aan instandhouding en vervanging van toerusting te spandeer.
Venter het daarop gewys dat mens kan verwag dat die welkome subsidies en kontrakte wat vanaf die staat verkry word, in die toekoms waarskynlik moeiliker bekombaar mag wees. "Daarom moet Jagersbosch na onafhanklikheid van staatsondersteuning streef en die enigste manier om dit te doen is om ons ledetal na ongeveer 2 500 te verhoog." Hy het die aanwesiges gevra om Jagersbosch te help met die belangrike werwingspoging van nuwe lede.
Dr. Roy Kretzen het daarna die vergadering gelei om die verkiesing van die nuwe bestuur te behartig. Ses bestaande bestuurslede is eenparig herkies en twee vakatures sal deur die loop van die jaar gevul word.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'