Tans spog Albertinia, Riversdal, Stilbaai en Jongensfontein met fasiliteite wat internasionaal die aandag kan trek, maar sonder provinsiale of munisipale befondsing kan nodige fondse nie genereer word nie. In gesprek met 'n kundige, wat tans weens verskeie redes verkies om anoniem te bly is dit tyd dat die plaaslike raad sowel die toerisme-organisasies van die streek en sakekamers wakker moet skrik en besef watter toerisme potensiaal hierdie plekke aan die besoeker bied, "pannekoekstalletjies en springkastele gaan die Kaliforniese toeriste nie hiernatoe lok nie".In Stilbaai alleen bied die museum by die Palinggat Opstal, die Tuin-op-die-Brak Fynbospark en die Pauline Bohnen natuurreservaat 'n wenmodel vir toerisme wat meer ontgin kan word, en is daar reeds 'n voorstel van 'n argeologiese/fynbos inligtingsentrum op erf 238 om die kwessie aan te spreek.
In diepte ondersoek
Lede van die Hessequa Argeologiese komitee het ongeveer vyf jaar gelede 'n in diepte ondersoek gedoen rakende al die museums en galerye in die Hessequa-streek. Kommerwekkend is dat dit blyk of nie veel gedoen is om die nodige aandag te gee aan die onderskeie museums en galerye binne die streek nadat dié verslag aan die voormalige raad en betrokke amptenary voorgelê is nie. Samevattend is die volgende gevolgtrekkinge gemaak na aanleiding van die ondersoek: Die Hessequa-streek beskik oor die kunswerke, kultuur-historiese objekte en artefakte wat, indien wyslik aangewend en dinamies uitgebou, die streek kan verhef tot een van die primêre teikens vir die kuns, kultuur en argeologietoeriste van die wêreld.
Vereistes om dit te bereik
Om bogenoemde te bereik sal die volgende vereistes aandag moet geniet: 'n Streeksbeleidraamwerk waarbinne die ontwikkelings kan gedy. Die aanvaarding van 'n finansieringsverantwoordelikheid van die kant van die munisipaliteit, die skep van bestuurstrukture wat gebruik maak van bestaande kundigheid in die onderskeie gemeenskappe, die voorsiening van die nodige fisiese fasiliteite en opleiding van bestaande en toekomstige personeel.
Burgemeester lewer kommentaar
Die uitvoerende burgemeester van Hessequa, rdl. Emor Nel is genader oor haar gevoel rondom die belangrikheid en noodsaaklikheid van museums binne die streek asook hoe dit inpas by die raad se visie. Nel noem dat museums gee mense die geleentheid om versamelings te besigtig en ontdekkings te doen oor dinge wat hul kan inspireer, waarvan hul kan leer en ook baie vreugde uit kan put. "Ek glo die belangrikste van 'n museum is juis die bewaring en beskikbaarstelling aan die publiek en veral vir die jongmens, waar rigting gegee kan word, hul intelek geprikkel kan word, waar hul kan wonder en droom". Sy gaan voort deur te noem dat museums hou hierdie waardevolle herinneringe veilig en bewaar dit vir die gemeenskap. "Dit kweek ook waardering vir diegene wat daardie museum opgerig het, dit hul taak gemaak het om waardevolle inligting en versamelstukke bymekaar te kry".
Nel noem verder dat in Hessequa het ons nog wonderlike en waardevolle versamelings in die Julius Gordon Africana Sentrum met 'n versameling waardevolle skilderye, die Argeologiese museum in Stilbaai met uiters waardevolle opgrawings, Albertinia museum, almal tot groot waarde en toerisme potensiaal vir Hessequa. "Ek wil vir u as ondersteuners van die Fonteinhuisie, mede entoesiaste en borge baie dankie sê. Dankie vir die onbaatsugtige werk wat u insit. Hessequa Munisipaliteit waardeer die onbaatsugtige ywer en tyd van ons inwoners".
Museum in Albertinia
Volgens die verslag is Albertinia Museum die bes-funksionerende museum in die streek en beskik oor doeltreffende bestuur, onvoldoende, maar goed ingerigte ruimte, en selfgegenereerde bronne. Hy ontvang van tyd tot tyd geldelike steun van die munisipaliteit. Die museum se tema (en Albertinia se leuse) is "Ons hou van die landelike lewe." Dis nie net `n plek waar uitstallings gehou word nie, maar daar vind ook gereeld kulturele aanbiedings plaas.
Fonteinhuisie in Jongensfontein
Die Fonteinhuisie word aangewend as 'n museum en is geskep deur 'n eenmalige fondsinsameling van vakansiegangers. Die kerntema van die museum is die wordingsgeskiedenis, mense en mileu van Jongensfontein. Tans beywer die Jongensfontein Inwoners Vereniging (JIV) hul daarvoor om die museum te beman en word nodige herstelwerk binnekort gedoen deur die omgewingsafdeling van die munisipaliteit. Die JIV het ook aansoek gedoen om die gebou tot 'n erfenis gebou te verklaar.
Stilbaai museum
Die museum in Stilbaai word gehuisves in die Palinggat Opstal wat ook die plaaslike toerisme buro huisves. Die museum bestaan uit drie fasette: 'n besoekers informasiediens, 'n aantal kultuur-historiese versamelings en die Blombos argeologie museum.
Die museum het geen vaste bron van finansiering nie en word die argeologiese uitstalling gefinansier deur die plaaslike argeologie vereniging terwyl die Stilbaai Bewaringstrust die res van die uitstalling befonds. Daar is egter 'n tekort aan ruimte aan die argeologie kant van die museum. Die vereniging wil graag die museum uitbou tot een wat die omvangryke argeologiese skatte van die streek bewaar, uitstal en beskikbaar maak vir sowel die plaaslike publiek as besoekers.
Julius Gordon Africana Sentrum kunsversameling in Riversdal
Ten tye van die opstel van die verslag is aangedui dat die Julius Gordon-Kunsversameling 'n baie waardevolle versameling is, maar toon duidelike letsels van dekades van verwaarlosing. Daar is ook in 2013 ingebreek by die museum en waardevolle miniatuur skilderye is gesteel. Die Julius Gordon Africana Sentrum is volgens die verslag 'n potensiële goudmyn, maar slegs as dit ordelik (en met 'n bietjie geld) bestuur word. Daar word ook beklemtoon dat die bestaande versameling die kern sal kan vorm vir een van die beste gemeenskapsversamelings in Suid-Afrika. Ten tye van die ondersoek vir die verslag is gevind dat die gebou ernstige aandag verg, van die skilderye beskadig is en herstel verg, die versameling nie 'n fokuspunt het nie, daar aansienlike prul tussen die waardevolle kunswerke is, daar geen sekuriteitsmaatreëls is nie, rekord op papier onder die gebou gestoor word wat 'n ernstige brandgevaar inhou. Intussen is sekuriteit opgeskerp by die sentrum met nuwe diefwering, 'n hek by die ingang asook 'n alarmstelsel.
Gesamentlik
Daar word in die vooruitsig gestel dat 'n groep outonome museums/galerye sal bestaan, elk onder eie bestuur, maar wedersyds samewerkend om te voorsien in die streek se kultuur-historiese behoeftes met die oog op gebruik deur opvoeders, die plaaslike gemeenskap en deur toeriste. Geen poging is tot op hede aangewend om so 'n samewerkingsooreenkoms te onderhandel nie. Die nodige grondslae behoort eers daargestel te word. Om 'n afsonderlike museum te motiveer, is 'n hoogs bemarkbare sentrale tema nodig. So 'n tema word deur moderne argeologiese navorsing aan die hand gedoen. Werk tans aan die gang by sowel Blombos as Pinnacle Point suggereer dat dit moontlik, selfs waarskynlik, is dat die moderne mens sy beslag in hierdie geweste gekry het, en wel omdat twee besondere voedselbronne vryelik beskikbaar was in 'n tyd toe die menslike bevolking radikaal verklein het, en oorlewing moeiliker as normaal was.
Die bronne was die knolgewasse van fynbos en skulpkos vryelik beskikbaar langs die kus.
Om sukses te behaal moet daar besondere politieke wil asook konsensus wees oor die belangrikheid van museums en galerye in Hessequa. Daar moet aanvaardig wees vir die noodsaaklikheid om die gemeenskap se kundigheid aan te wend asook die noodsaaklikheid van ordelike bestuurstrukture.
Finansiële implikasies.
Om hierdie inrigtings te vestig, uit te bou en te bedryf, sal nie goedkoop wees nie beklemtoon die verslag. Daar is koste-implikasies betreffende herstel van skilderye, opleiding, personeelkostes, die voorsiening van fasiliteite en, waar nodig, die aankoop van materiaal. Wat die vestiging van inrigtings betref, is daar ander potensiële bronne. Dit sluit in Lottogeld, provinsiale steun en steun van private individue. Wat geboue betref, is die visies vir sowel Stilbaai as Riversdal so gestruktureer dat nuwe fasiliteite modulêr verskaf kan word. Dit beteken dat die voorsiening ordelik kan geskied deur oor 'n periode van 'n aantal jaar, jaarliks relatief klein bedrae vir fasiliteite te begroot.
Die Fonteinhuisie op Jongensfontein. Foto's: Louise Mouton.