Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die Sakekamer en Hessequa-munisipaliteit moet hande vat, kennis deel en mekaar help tot voordeel van alle inwoners.
Dit was die motivering vir 'n netwerkgeleentheid tussen sakepersone en die munisipaliteit wat dié dorp se sakekamer op 25 Julie in die Stilbaai-gholfklub aangebied het.
Na afloop van die formele aanbiedinge het die aanwesiges in gespreksgroepe oor die praktiese toepassing van samewerking tussen die partye besin.
In sy inleiding tot die verrigtinge het Johan Jacobs, munisipale bestuurder die belang van die skep van meer inkomstegeleenthede in die Hessequa streek benadruk. Louw de Villiers, koördineerder van die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan, het daarby aangesluit met 'n kort verduideliking van die delikate balans wat deurentyd tussen finansiële volhoubaarheid aan die een kant en gemeenskapsbelang en -deelname aan die ander kant gehou moet word. Volgens De Villiers wil die raad 'n gesamentlike visie met al die inwoners van die streek hê sodat harmonie tussen uitbreiding en bewaring gehandhaaf word.
Kyk 'n video hieronder:
Die munisipaliteit se direkteur van beplanning, ontwikkeling en omgewingsake, Hendrik Visser, het daarna sewe eiendomme wat baie belangrik in die volgende 20 jaar se strategiese beplanning is, uitgelig. Dit is die Stilbaai-vliegveld, 'n spesifieke hoekeiendom naby Preekstoel wat voorheen vir die bou van 'n hotel uitgehou was, die Lappiesbaai-strandgebied, die erf agter die munisipale geboue waar 'n skool opgerig sal word, erf 657 Hoofweg-Wes wat oorkant die munisipale geboue lê, die hawe en laastens Julie se Baai. Ontwikkeling van die beoogde aftreeoord wat agter die munisipaliteit opgerig sal word is goed op dreef. Aansoeke vir die bou van 570 HOP-wooneenhede in Melkhoutfontein is ook in oorweging.
Harold Basson, direkteur van tegniese dienste van die munisipaliteit het gesels oor die hersiening van die bestaande waternetwerk. Dit behels onder andere dat elke pyp geanaliseer word en al die waterbronne in die gebied ondersoek word. Opgradering van die rioolstelsel om in seisoentyd voldoende kapasiteit te voorsien, het reeds begin. Met betrekking tot paaie word die moontlike opgradering van groot kruisings in die dorp as alternatief tot die bou van die voorgestelde sogenaamde westelike verbypad ondersoek. Dié beoogde pad sal anderkant die brug aan die regterkant begin en agter om die dorp tot by die Jongensfonteinpad strek.
Almal was dit eens dat die grootste uitdaging sal wees om Stilbaai se unieke karakter te behou sonder om sinvolle uitbreiding in die wiele te ry.
Daar word meer sulke gespreksgeleenthede in die vooruitsig gestel en die sakekamer en munisipaliteit verwelkom albei insette uit die gemeenskap.
In a town as unique in character as Still Bay, cooperation between the business sector and the municipality is of the utmost importance to ensure adequate expansion takes place, without sacrificing conservation. To this end the Still Bay business chamber facilitated a network opportunity in the local golf club on the 25th of July. It was well attended and participants had the opportunity to discuss the presentations with key role players in the Hessequa municipality.
Lees 'n vorige artikel hier: Sakegemeenskap en munisipaliteit in gesprek
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'