Update
STILBAAI NUUS - Die bewaringsmaatreëls van die Muilhuis-ruïne is Dinsdag, 22 Junie deur dr Deon Begemann, voorsitter van Stilbaai Bewaringstrust bekendgestel.
Die muilhuis is net binne die hek van die Pauline Bohnen-reservaat in Stilbaai en is 80 jaar gelede vir die muile gebou wat die nagemmerwaentjie getrek het.
Die emmers is 'n entjie dieper die reservaat in leeggemaak en na hulle dagtaak het die muile hier kom rus, voer gekry en water uit die troê binne die geboutjie gedrink.
Die nagemmerstelsel is eers in 1980 ten volle deur 'n moderne spoeltoiletstelsel vervang, waarna die gebou stadig maar seker vervalle geraak het.
Stilbaai Bewaringstrust het 'n tyd gelede besluit dat hierdie gebou, wat so deel van Stilbaai se geskiedenis is, bewaar moet word. Die hulp van 'n ingenieur is ingeroep, maar sy bevindinge was nie goed nie. Die bakstene is so verweer dat hulle vervang moes word en die dak sou heeltemal oorgedoen moet word.
Behalwe van die geweldige kostes sou dit ook nie outentiek wees nie. Daar is toe besluit dat vir die huidige, die plekkie mooi skoongemaak word en 'n palissadeheining kom rondom die ruïne om dit ten minste te probeer bewaar. 'n Bord is aangebring met 'n kort geskiedenis.
Begemann het in sy toespraak genoem dat monumente daar is om ons te herinner waar dinge vandaan kom en die rol wat mense en gebeure in ons vordering tot vandag toe gespeel het. Dit huldig die mense en in hierdie geval ook die diere wat van die kusdorp 'n beskaafde samelewing gemaak het.
"Monumente dien as 'n rigtingaanwyser vir die toekoms. Wys my jou monumente en ek sal jou wys wie jy is, waaraan jy glo, wat jou waardes is en waarheen jy oppad is," het Begemann gesê.
Hy het afgesluit deur te sê dat hy glo die monument sal bydra om hierdie reservaat ook in 'n natuurpark te verander, waar mense die natuur met respek kan ontmoet binne voorafgestelde voorwaardes en beperkings binne die konsep van 'n gereserveerde area, of te wel reservaat.
Dr Deon Begemann tydens sy toespraak voor die Muilhuis. Foto’s: Johan Victor
Vorige artikel: Muilhuis deel van Stilbaai verlede
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'