Update
SLANGRIVIER NUUS - Dié klein rustige dorp net buite Heidelberg is Saterdagoggend in die vroeë oggendure diep geruk toe 'n middeljarige man noodlottig met 'n onbekende voorwerp aangerand is.
Die oorledene, Jonathan (Petolie) Patel (54) was glo op pad huis toe vanaf familielede toe hy deur 'n jongman met 'n skerp voorwerp in sy bors gesteek is.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike polisiewoordvoerder, het die beampte aan diens in die aanklagkantoor ongeveer 04:20 die oproep van 'n vrou ontvang dat 'n man buite haar huis teen die draadheining staan en dit lyk of hy aangerand is.
Polisielede is dadelik na die toneel waar hulle op die oorledene afgekom het.
Suid-Kaap Forum het die toneel Saterdag-oggend besoek waar Patel aanvanklik in Queen Victoriastraat aangerand is en daarna in Salliestraat waar hy inmekaargesak en buite die woning van Johanna Abrahams gesterf het.
Abrahams sê toe sy ongeveer 03:38 toilet toe gaan, het sy 'n kreungeluid buite gehoor en deur die toiletvenster gesien 'n man leun teen die draadheining.
"Ek is na buite en het vir Jan Petolie, soos hy hier alombekend is, aangetref waar hy duidelik in pyn was en vreeslik gekreun het. Terwyl ek nadergegaan het, het hy geroggel en net daar inmekaargesak," het Abrahams gesê.
Patel se dogter, Annandré Manho, vertel dat sy en haar pa saam vroeër die aand by hul familie gekuier het, maar dat sy hom so teen 01:30 daar gelos het en huis toe gegaan het.
"Ek is gebreek omdat hy my alles was. Hy het my nog buite afgesien en gesê ek moet veilig wees en dat hy my oneindig lief het. Prinsessie, ek het jou baie lief en jy sal vir ewig in my ore weerklink" was sy laaste woorde aan haar.
Sy hartseer vrou, Dora, vertel dat sy hom nog 'n week gelede vertel het van haar droom dat hul seun uit die gevangenis vrygelaat word en huis toe kom. "Jan het niks hierop gesê nie en net voor hom uitgestaar, min wetende dat hy op pad is na sy hemelse woning."
Sers. Hendricks sê 'n 29-jarige jong man is Sondagmiddag in hegtenis geneem en sou op Dinsdag 27 Maart op aanklag van moord in die plaaslike landdroshof verskyn het.
Benewens sy vrou laat Patel sy dogter, seun en drie kleinkinders agter.
Johanna Abrahams wys hier waar sy Jonathan Patel aangetref het net voor hy teen dié draadheining inmekaargesak en gesterf het. Foto's: Clive Pretorius
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’