HEIDELBERG NUUS - Verskeie inbrake, veral in die Oos-Dorp is oor die afgelope paar weke by Heidelberg-polisie aangemeld, waartydens goedere van etlik duisende rande gesteel is.
Die polisie doen ‘n dringende beroep op alle inwoners om nie ‘n mark vir diewe te skep nie.
Gedurende die nag van 24/25 Augustus het diewe by ‘n woning in Mervyn Josephstraat, Joe Slovopark ingebreek terwyl die huismense geslaap het.
Twee selfone, waaronder ‘n pers Huawei Y6P en ‘n blou Mobicell R1 Plus, asook ‘n horlosie met 'n swart plastiek omhulsel is gesteel. Die waarde beloop volgens die eienaars ongeveer R5 500.
‘n Woning in Newtonstraat het 'n paar keer onder inbrake deurgeloop, waarvan die onlangste Sondagnag, 28/29 Augustus, plaasgevind het.
Die eienaar wat nagdiens gewerk het, het met haar aankoms by die huis ontdek dat diewe weereens van haar besittings, waaronder vir die tweedekeer ‘n platskerm televisie gesteel het
"Die klagtes word ondersoek en ons doen 'n beroep op die gemeenskap om enige inligting wat tot die inhegtenisname en skuldigbevinding van die oortreders kan lei, so gou moontlik aan die polisie te rapporteer," vra sers. Imorgene Hendricks, plaaslike mediawoordvoerder.
Inligting kan direk aan Hendricks by 082 893 9930 of die polisiestasie by 028 722 1910 verskaf word en sal as vertroulik beskou word.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'