Update
HEIDELBERG NUUS - Vir 17 jaar was sy mishandel, aangerand en eenkeer vir die dood agtergelaat voor sy tot die besef gekom het dat sy dit nie in haar lewe nodig het nie.
So vertel Elizabeth Jacobs (33), enkelma van drie kinders van Joe Slovo Park op Heidelberg.
Jacobs, alombekend as Jassie, vertel dat sy as 15-jarige skoolmeisie op haar 26-jarige vriend verlief geraak het.
"Aan die begin was dit maanskyn en rose, tot ons eendag 'n argument gehad en waartydens hy my vir die eerste keer geklap het," vertel sy. "As ek maar geweet het dat dit die begin van mishandeling was, kon dit my jare se pyn en seer gespaar het."
Sy het kort daarna swanger geword en van toe af word sy nie net geklap nie, maar ook aangerand en in die openbaar verneder. Haar dogter word gebore, maar die mishandeling stop nie. Toe haar dogter 19 maande oud was, word sy 14 keer met 'n skêr gesteek en vir dood agtergelaat.
"Dit was pynlik om jou oë toe te maak en die nagmerries jou oorval. My mishandelaar het my laat glo dat dit liefde is, maar buiten die mishandeling ook ander verhoudings gehad."
'n Paar dae voor 'n naweek aanbreek, het vrees haar begin oorval omdat dit gewoonlik die tye was wat sy aangerand word. Sy het in depressie verval omdat dit vir haar gevoel het dat niks en niemand haar kan beskerm nie. "Ek het 'n interdik teen hom gekry, maar dit het steeds nie gehelp nie."
Sy moes dikwels soggens vroeg of saans laat met haar kinders vlug, op soek na 'n veilige hawe vir hulle. Haar kinders is boonop telkens van haar weggeneem na veiligheidshuise.
"Dit was seer en dit maak vandag steeds seer, want ek het geglo ek gaan nooit van my mishandelde lewe verlos word nie. Ek het gebid, maar dit het gevoel asof die Here nie my gebed hoor nie."
Rehabilitasie
Sy vertel met heimwee in haar stem dat haar vriende en familie baie keer hul rug op haar gedraai het. Sy het ook al probeer om selfdood te pleeg, wat nie geslaag het nie. Daarna het sy na die welsyn gegaan waar sy hulle vertel het dat sy dwelms gebruik, om sodoende na 'n rehabilitasiesentrum gestuur te word in die hoop om van die man te kan ontsnap, maar dit het ook nie vrugte afgewerp nie.
In November verlede jaar vind sy uiteindelik 'n plek in Athlone, maar as gevolg van die Covid-19-pandemie moes dit ook afgestel word. Dis toe dat sy besluit dat indien sy nie daadwerklik iets aan haar situasie gaan doen nie, niemand dit vir haar gaan doen nie.
En sy neem 'n besluit wat haar lewe verander en sy sê: "Sestien jaar is genoeg. Ek maak 'n saak en hy gaan tronk toe. Ek gaan nooit weer toelaat dat enige man my ooit weer mishandel nie."
Ter bemoediging van Vrouedag spoor Jacobs alle vroue aan om nie toe te laat dat hul eggenote, vriende of saamleefmaats hulle aanrand, verneder of enigsins mishandel nie. "Dame, sit jou voet neer met die eerste klap en stap weg uit daai verhouding. Moet nooit weer terug kyk nie, want stop gaan die lafaard nie stop nie.
"Vroue, ons is spesiaal, sterk, onafhanklik, uniek en met 'n doel op die aarde geplaas. Geen man het die reg om jou te disrepekteer, te slaan of te verneder nie. Ek moes my mishandeling stop, so kom ons neem hande as vroue en sê: Nee, nee, nee. Gaan wys vir die wêreld wie jy is, wees geseënd."
Vorige artikel: Mishandeling kan gestop word
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'