Update
HESSEQUA NUUS - Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse minister van gesondheid, het die streek op Woensdag 26 Junie besoek.
Sy het Heidelberg se mediese nooddiens (EMS) besoek waar sy die personeel ontmoet en eerstehands meer oor hul werksomstandighede te wete gekom het.
Hulle het die behoefte aan meer personeel en ambulanse, asook die moontlikheid van 'n satellietkliniek op Slangrivier gedurende die week, uitgespreek.
By Stilbaai-kliniek is genoem dat 'n tekort aan administratiewe personeel en internet-onderbrekings van die probleme is wat ondervind word.
Sy is ook meegedeel dat die satellietkliniek op Melkhoutfontein met 'n afdak sal kan doen waar pasiënte kan sit terwyl hulle vir die ambulansbussie, of vir die kliniek om oop te maak, wag.
Toe het sy 'n draai by Huis Lekkerbly-tehuis vir bejaardes gaan maak.
Sy het met die inwoners gesels en gesê sy is tevrede met die manier hoe die verpleegpersoneel die inwoners behandel.
"Vriendelikheid kos niks," het sy gesê. Sy het verpleegpersoneel gemaan om in gedagte te hou dat siek mense 'n tikkie ekstra warmte en ondersteuning nodig het.
Dr. Helise Schoeman van die Garden Route-distriksgesondheidsforum, dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse minister van gesondheid en Grant Riddles, burgemeester.
Lees 'n vorige artikel hier: Minister van Gesondheid besoek streek
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'