Update
HESSEQUA NUUS - Die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers het die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles en raadslede van Hessequa vir samesprekings oor plaaslike behuisingsprojekte ontmoet.
Simmers en 'n aantal van die senior bestuurders en amptenare van sy departement het op Dinsdag, 28 Julie die Hessequa-raad besoek.
Tydens die aanbieding is die departement se kriteria vir die toekenning van geld vir projekte onder meer verduidelik. Departementshoof, Jacqueline Samson het benadruk dat hulle eers seker maak 'n projek is ontwikkel tot die punt waar dit in dieselfde finansiële jaar kan afskop, voor befondsing goedgekeur word. Die geld kom uit die departement se eie begroting en word streng beheer.
Struikelblokke soos die agterstand in die aktekantoor met die registrasie van titelaktes en die skaarste van geskikte grond vir behuising in sommige gebiede vertraag die proses, maar Samson sê die departement doen alles in sy vermoë om 'n regverdige, geloofwaardige en deursigtige toekenningsproses te volg tot voordeel van alle inwoners van die Wes-Kaap. Hulle werk ook voortdurend aan die ontwikkeling van alternatiewe boutegnologie om eenhede se boukostes so laag moontlik te hou.
Ten spyte van die herprioretisering van doelwitte wat noodwendig volgens die minister as gevolg van Covid-19-besnoeiing gedoen moes word, kon daar nogtans 'n ooreenkoms vir 'n behuisingsprojek in Melkhoutfontein onderteken word. Dit sal in Sonopstraat plaasvind.
Minister Tertuis Simmers aan die woord tydens die vergadering in die Hessequa-raadsaal.
Vorige artikel: Minister besoek Hessequa
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'