STILBAAI NUUS - Die doelgerigte polisiëring in en om dié kusdorp werp goeie vrugte af.
Volgens stasiebevelvoerder kapt. Johan van Tonder was dit 'n baie voorspoedige seisoen: "Alle soorte prioriteitsmisdaad het merkwaardige afnames vir die tydperk 1 tot 31 Desember 2019 getoon vergeleke Desember 2018. Die grootste persentasie afname was by inbrake by wonings, asook by gewone diefstalle."
Van Tonder skryf die goeie resultate aan verskeie faktore toe.
Eerstens is die buurtwagte en plaaswagte baie aktief betrokke en inligting vloei deurlopend via WhatsApp-groepe. 'n Tweede faktor is die speurtak se doelgerigte ondersoeke: "Verskeie herhalende (gewoonte) misdadigers is tans in aanhouding, en/of reeds vir misdade gepleeg gedurende die jaar gevonnis," sê hy.
Volgens hom het die polisie ook geen verdraagsaamheid vir onwettige dwelmhandel getoon nie en verskeie persone is daarvoor gearresteer.
"Gedurende Desember het verskeie dronkbestuurders ook hul rieme styfgeloop en is deur die polisie of die verkeersafdeling aangekeer."
Die polisie het ook ongeveer 60 besoeke aan gelisensieerde drankpersele gebring om te monitor dat drankpersele hul voorwaardes nakom.
Laastens wys Van Tonder die polisie se hoë sigbaarheid met blouligpatrollies uit as 'n faktor in misdaadbestryding.
Geen insidente is tydens die Touchies-toernooi aangeteken nie en Van Tonder skryf dit aan goeie beplanning, toesig en beheer toe.
Verskeie klagtes oor besope persone is tydens die Rocking Stilbaai-musiekfees van 26 en 27 Desember ontvang. Volgens Van Tonder is die organiseerders deur die polisie aangespreek omdat persone onder 18 op die perseel gevind is wat onder die invloed van drank was: "Die organiseerder is beboet en het reeds skulderkenning betaal. Dit het tot gevolg gehad dat nog meer toesig en beheer uitgeoefen is."
Wat padveiligheid betref is daar net 'n paar klein stampies en stootjies in parkeerareas by die polisie aangemeld en geen noodlottige ongelukke het plaasgevind nie.
Van Tonder bedank al die buurtwagte, plaaswagvrywilligers, ander wetstoepassingseenhede en al Stilbaai-polisie se lede vir hul bydrae tot 'n veilige vakansieseisoen in Stilbaai.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'