WES-KAAP NUUS - Die tweeling-doodsengele, Alkohol en Spoed het die afgelope naweek vanaf Vrydag 11 tot Maandagoggend 14 Oktober 25 lewens op die provinsie se paaie geëis.
Net in die Hessequa-streek is twee volwassenes en vier kinders sedert 21 September tot op hede op die N2 en 'n sekondêre pad dood.
Dit sluit nie ernstig beseerdes in wat dalk kon beswyk het nie – en die feesseisoen het nog nie eens begin nie.
Onder die sterfgevalle van ses ernstige ongelukke was ses voetgangers en 'n baba:
- Op 11 Oktober is 'n vrou dood in 'n botsing tussen Caledon en Riviersonderend;
- Op 12 Oktober is vier passasiers dood in 'n ongeluk op die N2 tussen Jakes Gerwelrylaan en Bhungalaan. Nog twee mense is dood in 'n botsing waarin vier voertuie op die R60 tussen Robertson en Worcester betrokke was. Twee mense is dood in 'n ongeluk in 35ste Laan, Elsiesrivier;
- Op 13 Oktober is twee mense dood toe die bestuurder van 'n minibus aan die Grabouw-kant van die uitkykpunt op Sir Lowry's-pas beheer oor die voertuig verloor het;
- Op 14 Oktober is 'n baba dood in 'n ongeluk waarin twee taxis op die N1 by die Ceres-afrit buite Touwsrivier in die rigting van Worcester betrokke was.
Sedert die begin van die jaar was daar ongeveer 12 noodlottige ongelukke op die N2 tussen Mosselbaai en Swellendam, asook die R305 na Stilbaai, waarin 4 kinders en 12 volwassenes omgekom het - waarvan Suid-Kaap Forum bewus is.
Wat kan gedoen word om te keer dat families tydens dié Kersseisoen treur in plaas van feesvier?
"Gemeenskappe moet saamstaan teen hierdie geweld op paaie," sê Kenny Africa, Wes-Kaap verkeershoof.
"Wanneer ons bure, vriende of familielede in kroeë en klubs sien, behoort ons hul motorsleutels af te neem en die provinsiale padowerhede of die polisie te bel. Dan sal hierdie nodelose sterftes op ons paaie nie soveel hartseer veroorsaak nie."
Hy meen tensy daar voltydse sigbare polisiëring plaasvind, is die stryd tevergeefs. Daar is tans 520 provinsiale verkeersbeamptes wat vir die verkeer op sowat 25 000 km paaie verantwoordelik is. "Die verkeersowerhede is die enigste wat die nasionale- en hoofpaaie patrolleer én nege weegbrûe hanteer. Dis hulle wat veral oor naweke, laat in die nag en in die vroeë oggendure die doodslagting op ons paaie moet aanskou."
Hy voel die howe moet ook hul kant bring. "As hierdie moordenaars van die pad toegesluit word, sal hulle ten minste vir 'n ruk van ons paaie verwyder wees. Maar dis ook nie die soort wêreld waarin ons wil leef nie..."
Padveiligheid is almal se verantwoordelik-heid. "Motoriste moet hulle nonsens laat staan en hul houding en ingesteldheid verander."
Saterdag 12 Oktober, R60 tussen Robertson en Worcester - twee persone dood.
Saterdag 10 Augustus, R305 Stilbaai-pad.
Saterdag 12 Oktober, R60 tussen Robertson en Worcester - twee persone dood.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'