STILBAAI NUUS - Sonja Margerison is al 'n paar jaar besig met die verfraaiing van die mure by Melkhoutfontein se sportterrein en het dadelik die potensiaal gesien in Pieter Marais se idee om mense bewus te maak van die voordele van 'n skoon omgewing.
"Kyk, ek vattie nonsens nie. Ek verpes MOOP. Dit staan vir matter out of place. So dis enige ding wat die omgewing ontsier. Van 'n papier tot 'n blik tot 'n ou stuk motorkar in iemand se jaart."
Anti Morsjors waai haar armpies terwyl sy praat.
"Is die vissies hier op my skirt nie mooi nie? Ja, dis hoe skoon ons die see moet hou. Maar kyk nou hier agterop my kop na die groot pleister. Dis waar julle mense my seergemaak het." Sy draai om en wys die wond op haar groot aarde-kop.
Anti Morsjors maak mense bewus van die voordele van 'n skoon omgewing.
Anti Morsjors is die geesteskind van Sonja om die mense van Hessequa op 'n interaktiewe manier bewus te maak oor hoe hulle plek kan lyk as hulle dit skoon hou.
"'n Skoon omgewing verhoog jou lewenskwaliteit. Mens voel sommer beter oor jouself en die wêreld.
"Geen mens kan selfrespek hê as hulle nie respek het vir hul omgewing, mense en diere nie. Dit gaan dus eintlik oor 'n waardestelsel wat wyer strek as rommel strooi, sê Pieter. "Om ons model te toets het ons Melkhoutfontein Primêr en die kinders se ouers gekies om ons veldtog te begin. Ons wil dit volgende jaar uitrol na ander skole in die Hessequa-streek."
Mense wat aan 'n gemeenskaps-projek soos Anti Morsjors wil deelneem, kwalifiseer vir sertifikate wat hulle met werkaansoeke op hulle CV's kan gebruik.
Melkhoutfontein Creations, 'n nie-winsgewende organisasie onder leiding van Jenny Olivier, het ingestem om die Anti Morsjors-projek onder hulle vaandel te doen. Hulle het reeds ondervinding van projekte soos skoonmaak-dienste wat werk verskaf en mense dus 'n inkomste en selfwaarde gee.
Beryl Prins, Fiona Oosthuizen en Ethné Louw hou die leisels in Melkhoutfontein en sorg dat die proses met die registrasie van deelnemers en die klassifisering van die rommel en die verwydering daarvan glad verloop.
So 'n projek kos geld en Lynette Beer se Gees van Uitnemendheid-aanbieding by die NG Kerk in Stilbaai op Donderdag 9 November om 18:00 gaan grootliks bydra tot die projek. Lynette nooi besighede, individue en vriende vir 'n lewensveranderende aand. Bespreek jul kaartjies vroegtydig en verversings is ook ingesluit.
"Ja, kyk mense. Ek sou nie hier gewees het sonder julle ondersteuning nie. Sonder julle kan ek nie bestaan nie. So roer julle en maak seker julle het kaartjies vir Lynette Beer se aand. Kom luister en wys julle kleure." Anti Morsjors knipoog, dans in die rondte en waai totsiens met 'n swart sak in die hand.
Kontak vir Sonja by 072 222 4168 of Jenny by 082 565 0979 vir meer inligting oor Lynette Beer se aanbieding.
Fiona Coetzee by 072 436 0697 administreer die rommelprojek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’