STILBAAI NUUS - Vir sewe manne in Melkhoutfontein het die algemene verval net te veel geword en hulle het besluit tot hiertoe en nie verder nie.
Hulle het koppe bymekaar gesit en so is die Melkhoutfontein Inwonersvereniging gestig. Hul doelwit is om die plaaslike gemeenskap se behoeftes rakende veiligheid, veral dié van vroue en kinders, maatskaplike probleme asook die sosio-ekonomiese uitdagings aan te spreek.
Volgens die sewe stuks kon hulle sien dat Jongensfontein se inwonersvereniging goed funksioneer en hier het dié vereniging se Naas Olivier baie gehelp en as mentor opgetree vir Winston October, visevoorsitter van die Melkhoutfontein Inwoners-vereniging.
Marthinus Baadjies, voorsitter, sê dat hulle die idee eers met die gemeenskap gedeel het en almal was dit eens dat dit 'n baie goeie idee is. Daarna het hulle met die hulp van die departement van maatskaplike ontwikkeling as 'n nie-regeringsorganisasie geregistreer en nou begin die groot werk om hul doelwitte te bereik.
Die vereniging streef daarna om as 'n organisasie die mondstuk van Melkhout-fontein te wees. "Een goed gekonsolideerde poging is tog baie beter as 100 mense wat individueel kla," sê Baadjies.
Hy reken hierdie poging kan net slaag as die hele gemeenskap agter hulle staan, "maar daar is mos maar altyd die kopseer van booswigte wat sake kom deurmekaarkrap".
"Gelukkig het hulle steun van 95% van Melkhoutfontein se inwoners en dit sterk hulle hand in hulle interaksie met relevante rolspelers soos die munisipaliteit en die plaaslike polisie. Hulle wil nou met albei saamwerk en het alreeds 'n baie goeie verhouding met Melkhoutfontein-buurtwag."
Wat hierdie sewe dapper manne vra is dat die gemeenskap hulle 'n kans gee. Hulle besef dat hulle nie alles weet nie, maar hulle is bereid om te leer en as almal saamstaan kan hulle Melkhoutfontein weer 'n plek maak waar almal veilig en gelukkig kan saamleef.
Die Melkhoutfontein van ouds waar kinders sorgeloos in die aand in die strate kon speel en waar iets soos die Visserstrust weer sy regmatige plek kan inneem.
'n Bekendstellingsgeleentheid word beoog. Intussen kan Baadjies by 083 927 8244 gekontak word.
Die bestuur van die Melkhoutfontein Inwonersvereniging. Van link is Randall Michaels (assistent-tesourier), David Hartnick (tesourier), Marthinus Baadjies (voorsitter), Winston October (visevoorsitter), Henry Philander (addisionele lid), Alfredo Pieterse (addisionele lid) en George Isaacs (sekretaris).
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'