HESSEQUA NUUS - Motoriste kan vanaf 14 Januarie 'n ongeluk gratis aanlyn aanmeld en 'n saaknommer ontvang.
Ongelukkig kan slegs geringe voorvalle op hierdie manier by die nasionale verkeersinligtingstelsel (Natis) geregistreer word.
Dié stelsel verskaf dan outomaties 'n ongeluksnommer (Crash Report Number of CRN) wat vir versekeringsdoeleindes gebruik kan word.
Alle botsings moet steeds binne 24 uur of die volgende werksdag aangemeld word indien die voorval nie op 'n werksdag nie, maar op 'n Saterdag, Sondag of openbare vakansiedag plaasgevind het.
Die aanlynregistrasie is bindend en die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) behou die reg voor om die inligting later aan te vra.
Waar 'n persoon beseer of dood is of in 'n tref-en-trapongeluk betrokke was, moet dit egter steeds onmiddellik by die naaste polisie- of verkeerskantoor aangemeld word. Dieselfde geld vir alle ongelukke waarin vyf of meer voertuie betrokke was.
Die aanlyn-aanmelding is inderdaad baie minder van 'n beslommernis as om 'n vorm in duplikaat in die ongeluksregister by die polisiekantoor te gaan invul. Al die besonderhede van die bestuurders, die voertuie en die verloop van die voorval moet volledig in dié register aangeteken word. Indien die polisie die toneel besoek het, kan hulle ook die ongelukstoneel in die voorgeskrewe spasie skets.
"Ek is nie so seker of die aanlyn-besigheid gaan werk nie," het 'n polisielid skepties opgemerk.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'