Gallery Update
HESSEQUA NUUS - Gedurende die afgelope twee weke het CARS (Community Animal Rescue Society) in drie dorpe in die Hessequa-streek sterilisasieklinieke aangebied. In totaal is 95 katte en 114 honde, mannetjies en wyfies, gesteriliseer.
"Ons is veral groot dank aan dr Annelize Roos en haar span verskuldig wat al die sterilisasies in die dorpe behartig het. Dit was lang ure van onverpoosd werk sonder vergoeding," het die voorsitter van CARS, Sandra Lotz gesê.
Bietouville, Gouritsmond - 6 Julie
Hier is uiteindelik 13 reuns, 17 tewe, vyf mannetjieskatte en 11 wyfiekatte gesteriliseer. CARS bedank almal wat hulle gehelp het, veral Hessequa-munisipaliteit vir die beskikbaarstelling van die sokkersaal, Hanli vir die heerlike toebroodjies, Christa Zietsman, asook Nicole Botha, Anthea Nell, Elretha Gersbach, Flaffie Crous en Faan wat al die pad van Stilbaai gaan help het.
'n Besondere woord van dank gaan aan Thinus Lotz, wat al die diere aangery en na hul huise teruggeneem het. Hy het selfs ook 'n hond uit 'n draad gered wat homself daar vasgedraai het. Niemand wou aan hom vat nie omdat hy dalk kon byt, maar die hond sou homself verwurg het as Thinus hom nie losgemaak het nie.
Fotogalery: 200 diere gesteriliseer
Volgens Lotz was daar heelparty honde wat erg met wurms besmet was. "Mense besef nie dat wurms 'n hond se dood kan veroorsaak nie. Daarvoor sal verdere fondse ingesamel moet word."
Melkhoutfontein - 7 Julie
Ook hier was die kliniek 'n groot sukses met 14 reuns, 14 tewe, 13 mannetjie- en 14 wyfiekatte wat gesteriliseer is. Roos moes 'n wit kat se oor afsit wat in 'n slegte toestand was, al was dit nie die eintlike doel waarvoor sy daar was nie.
Elke dier was gemonitor, van die oomblik wat hul arriveer tot wanneer hulle weer huis toe geneem word. "Nie 'n enkele hond was alleen gelos nie en elke dier het 'n drukkie gekry voor hul huis toe is," sê Nicole Botha, wat die dag georganiseer het.
"Ek kan nie nalaat om vir al die vrywilligers, Anthea Nell, Flaffie Crous en Faan, Thinus Lotz wat die diere vervoer en ander takies verrig het, asook die kosverskaffers vir heerlike eetgoed te bedank nie."
Heidelberg - 13 en 14 Julie
Sewe reuns, 48 tewe, 35 wyfie- en 17 mannetjiekatte is tydens die twee dae gesteriliseer. Tydens Suid-Kaap Forum se besoek was dit duidelik dat Lotz, Roos en al die vrywilligers die diere met groot passie en deernis hanteer. Lotz was redelik beïndruk met die hoeveelheid diere wat gebring is om gesteriliseer te word, maar het ook haar kommer uitgespreek oor die swak toestand van baie van die diere.
Volgens Lotz sal hulle heelwat meer sterilisasies wil doen, maar die tekort aan finansies is 'n groot struikelblok. Sy doen 'n beroep op die gemeenskap vir bydraes, hoe gering ookal.Thinus Lotz was weereens een van die staatmakers wat die honde gaan optel en weer afgelewer het.
Ongelukkig het hy nie heeltemal ongeskonde daarvan afgekom nie en moes 'n paar hondebyte verduur, selfs een na sy gesig.
Bedankings gaan aan die passievolle vrywilligers wat vir die sukses van die twee dae gesorg het. Spesiale vermelding ook aan Anthea Nell wat seker gemaak het dat die syfers klop en al die diere ingeteken is, Johan Rautenbach wat baie van die swaar optelwerk gedoen, skoongemaak het en ook 'n video vir CARS gemaak het, Jolene Carstens en Dewald wat met alles gehelp het en laaste was om te vertrek, Maatjie wat elke dier 'n drukkie gegee het, Almelia Uys vir die foto's en bystand, asook diegene wat die kos verskaf het.
"Ons gee vir diere om. Ons weet sterilisasie is die mees belangrikste deel van liefdadigheidswerk en offer daarom ons tyd op om die sterilisasieklinieke vir behoeftige diere-eienaars te doen," sê Lotz.
Enige bydraes om CARS te help om hierdie liefdesdiens voort te sit, sal verwelkom word. Kontak Lotz (082 962 1831).
Vorige artikel: Groot sukses met sterilisasieklinieke
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'