HEIDELBERG NUUS - Verskeie plaaslike instansies en inwoners, ook van Slangrivier, het Dinsdag 18 Julie hul deel bygedra om aan die nalatenskap van die land se grootste ikoon, Nelson Rolihlahla Mandela, eer te betoon.
Die dag se verrigtinge in Heidelberg is deur Kleine Pikkewyne-kleuters, opvoeders en ouers, met 'n optog deur die Oos-Dorp afgeskop. Hulle is deur die brandweer en verkeersdienste tydens die optog begelei.
Op Slangrivier het die plaaslike polisie-woordvoerder, sers. Imorgene Hendricks, en haar span rolspelers, wat a.o. Blackie Swart, waarnemende stasiekommissaris, Nikki Johannes, Mosiac se hof- en gemeenskapswerker, Quinton Abrahams, portuuropvoeder, asook lede van die manne- en vrouenetwerke 'n misdaad-bewusmakingsveldtog aangebied.
Hulle het ook nagenoeg 200 inwoners, jonk en oud, met sop en toebroodjies asook geskenkpakkies met klere bederf.
Kleuters van Kleine Pikkewyne-kleuterskool, hul opvoeders en ouers het 'n optog in die Oos-Dorp met begeleiding deur die brandweerpersoneel onderneem om die nalatenskap van Madiba te vier.
Hendricks en verskeie sprekers het die aanwesiges kortliks oor veiligheid, misdaad en vele ander kwessies wat hulle daagliks in die gesig staar, toegespreek.
Lede van die DA-vrouenetwerk, DAWN, het in samewerking met die munisipaliteit se Cleaning and Greening-span hul deel bygedra deur die kleuters en hul opvoeders by Groenie die Drakie-kleuterskool met lekkernye te bederf.
Hulle het ook die skool se tuin opgeknap en mooigemaak.
Verskeie mense wat sopkombuise bedryf het ook hul bydra gelewer. In wyk 5, Heidelberg, het die Mervyn Joseph ANC-tak, in samewerking met die personeel van die Ayethu Sopkombuis, sop en toebroodjies in die wyk uitgedeel.
Groenie die Drakie-kleuterskool se kleintjies is duidelik in hul noppies met die lekkernye en geskenkpakkies wat hulle van die DA se vrouenetwerkspan, DAWN, en die munisipale 'Cleaning and Greening'-werkers in ontvangs geneem het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’