SUID-KAAP NUUS - Wees onbaatsugtig vanjaar deur gereeld bloed te skenk.
Indien jy van voornemens is om vier skenkings te maak, kan jy tot 12 lewens red - elke eenheid bloed word in drie lewensreddende dele verdeel: Rooibloedselle, plaatjies en plasma.
"Dankie aan al ons bloedskenkers vir hul ondersteuning gedurende 2018 en spesifiek gedurende die feesseisoen. Deur die skenkings gedurende hierdie tydperk het ons 12 727 bloedskenkings ontvang wat daartoe gelei het dat 38 181 lewens gered is," sê Michelle Vermeulen, woordvoerder vir die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB). "Ons doel is om gedurende die jaar meer as 160 000 eenhede bloed in te samel. Ons kan dit slegs doen met jou hulp."
Bloedskenking neem ongeveer 30 minute van jou tyd elke 56 dae. Jy moet ouer as 16 en jonger as 65 wees, meer as 50 kg weeg, gesond wees op die dag van skenking en 'n veilige seksuele leefstyl handhaaf.
Bloedskenking sal jou geen fisiese skade berokken nie, aangesien slegs 475 ml bloed geneem word wat binne 24-uur vervang word.
Nuttig 'n maaltyd tussen drie en vier ure voor jy bloed skenk en vermeerder jou vloeistofinname voor, gedurende en ná skenking.
Neem dit ook rustig met oefening ná jou skenking.
Laai hul toep, 'WCBS' af om uit te vind waar jou naaste kliniek is. Dit is verniet by alle iOS- en Android-toepwinkels beskikbaar. Dit sal ook vir jou in reële tyd wys hoe WKB se bloedvoorraad lyk.
Vir meer inligting SMS 'Bloed' na 33507 en WKB sal jou terugskakel met inligting waar om te skenk. Skenkers kan ook 021 507 6300 skakel, 'n e-pos aan info@wcbs.org.za stuur of hul webtuiste, www.wcbs.org.za of Facebook-blad (@TheWCBS) besoek, of volg hulle op Twitter (@The_WCBS) vir interessante feite en inligting.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'