Update
HEIDELBERG NUUS - Dit wil voorkom of dieselfde probleem waarmee 'n inwoner van Heidelberg, Maria September, alombekend as Max, al vir sewe jaar mee worstel, nou ook haar dogter se voorland is.
Suid-Kaap Forum het sowat 'n maand gelede berig dat September (57), sedert 2012 verkeerdelik as gestorwene geklassifiseer is nadat haar ma, by name ook Maria September in 2012 gesterf het.
Sy sukkel sedertdien om van haar "spookstatus" ontslae te raak en om haar as lewend verklaar te kry.
Om sake te vererger sukkel Max se dogter, Charlsia (18) ook om haar identiteitsdokument te verkry en is sy oortuig daarvan dat dit as gevolg van haar ma se spookstatus is. Charlsia, 'n graad 12-leerder by Kairos Senior Sekondêre Skool, vrees dat dit enige toekomstige loopbaan kan belemmer indien sy nie oor 'n identiteitsdokument beskik nie. Sy wag reeds bykans twee jaar daarvoor.
"Ek wil graag onderwys studeer om ons lewensgehalte te verbeter," het sy gesê.
Volgens Max het sy nie eens toegang tot haar geld in haar spaarrekening nie omdat sy dood verklaar is.
"Ek is bevrees dat as ek nie teen die einde van die jaar geholpe raak nie, ek nie vir Charlsia geldelik sal kan ondersteun nie as sy verder wil studeer," het sy erg gefrustreerd gesê.
Boonop kan sy ook nie 'n nuwe bankrekening open nie, maar gelukkig kon haar werkgewer darem iets reël om haar salaris in 'n spesiale rekening te deponeer.
Max en Charlsia is nie die enigste persone in dié dorp wat probleme met die departement van binnelandse sake het nie.
Die Forum het ook voorheen berig van Pieter Esau (71) wat in Februarie 2019 aansoek vir 'n afskrif van sy trousertifikaat gedoen het, maar steeds nie gekry het nie. Dié wewenaar benodig dit om die verkoop van sy huis in Joe Slovo Park af te handel.
Op die Forum se navraag kon steeds geen bevredigende antwoord verskaf word nie, weer slegs net dat dit aandag geniet.
Vorige artikel: Identiteits-nagmerrie nog nie verby
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'