Update
RIVERSDAL NUUS - Die bekroonde musiekresensent en kunstejoernalis, CJ die Loslit DJ was vanjaar weer 'n beoordelaar vir die Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (SAMA). Sy loopbaan strek oor 40 jaar.
Dit is die 27ste keer wat dié musiekpryse uitgedeel word.
CJ het die eerste keer in 1994, met die instelling van dié gesogte toekenning, beoordeel.
Sy eie album, Boerejol, 'n konsep-CD het in 1998 'n SAMA-toekenning in 1998 verower.
Hy sê vanjaar was 'n opwindende uitdaging. "Hoewel kunstenaars weens die Covid-19-pandemie nie kon optree nie, het hulle tyd gehad om nuwe materiaal te skep en op te neem. Daar was vanjaar 1 163 inskrywings; die meeste nóg.
"Ons het nie CD's ontvang om te beoordeel nie en moes alles aanlyn doen. 'n Mens mis nogal die CD en die gepaardgaande verpakking. Anders as met die Ghoema-toekennings vir Afrikaanse musiek, hoef ons nie vir SAMA die verpakking, ontwerp en aanbieding van die CD-boekie te beoordeel nie. Dit gaan slegs om wat jy hoor."
CJ, wat oor die 7 000 CD's in sy musiekversameling het, het die Afrikaanse kontemporêre inskrywings beoordeel.
"Daar was 'n aantal bekende name, maar ook heelparty waardige nuwelinge. Ek was veral beïndruk met die inskrywings in die samewerking-afdeling, wat die meeste benoemings opgelewer het: 170 Kunstenaars het oor taal- en kultuurgrense saamgewerk om uitstekende nuutskeppings aan die Suid-Afrikaanse musiekskat toe te voeg."
Hy wys uit hoe die landskap van musiek verander het.
"Hoewel jy hier en daar nog 'n CD kan koop, is kunstenaars deesdae geneig om eers enkelsnitte aanlyn uit te reik voor hulle 'n volledige CD bekendstel; meestal egter slegs ook net aanlyn. Suid-Afrika se grootste CD-pers het gesluit en die kunstenaars laat dit deesdae in die buiteland druk. Tegnologie stel musiek egter nou wyd op sosiale media en die kuberruim beskikbaar en die aanvraag na CD's is gering."
Vorige artikel: CJ beoordeel weer
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'