Update
HESSEQUA NUUS - Inwoners van Riversdal moet vanaf Dinsdag, 4 Augustus vir 10 dae sonder die diens van die plaaslike lisensiekantoor klaarkom.
Volgens Hessequa-munisipaliteit ondervind hulle 'n personeeltekort in die kantoor na 'n personeellid positief vir Covid-19 getoets het.
"Geen motorregistrasie-transaksies, hernuwing van bestuurslisensies of enige nuwe padwaardigheidsaansoeke sal hanteer word nie. Die padwaardigheidsentrum bly egter vir enige hertoetse oop. Dus sal padwaardigheidstoetse wat voorheen afgekeur was en steeds binne die geldigheid van die 10 dae val, wel getoets word." Applikante wat afsprake vir bestuurslisensies in dié tyd het, sal gekontak word om te herskeduleer.
Dringende transaksies beskikbaar in Heidelberg
- Hernuwing van motorvoertuiglisensie;
- Registrasie van motorvoertuie indien reeds padwaardig verklaar;
- Hernuwing van bestuurslisensie.
Dringende transaksies beskikbaar in Albertinia en Stilbaai
- Hernuwing van motorvoertuiglisensie;
- Registrasie van motorvoertuie indien reeds padwaardig verklaar.
Ander werksaamhede by die lisensiekantore op Heidelberg, Stilbaai en Albertinia gaan soos normaal voort indien alle verantwoordelike personeel beskikbaar is. Die Riversdal-dienspunt sal weer vanaf 13 Augustus om 08:00 in werking wees.
Die publiek word herinner dat bestuurslisensies wat tussen 27 Maart en 31 Augustus verval het, steeds geldig sal wees tot 31 Januarie 2021.
Motorvoertuiglisensies wat tussen 27 Maart en 31 Mei verval het, bly geldig tot 31 Augustus.
Die munisipaliteit bedank die publiek vir hul geduld.
Vorige artikel: Riversdal lisensiekantoor gesluit
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'