Van die vyf sintuie is blindheid of swak sig waarskynlik die ergste; om nie kleur te kan onderskei nie, om slegs vae buitelyne van die wonderlike natuur daarbuite te kan onderskei, om mense slegs as skimme te kan identifiseer - of dalk glad niks te kan sien nie, net 'n swart donkerte...
Oogsiektes kom al sedert die sondeval voor omdat ons gereeld in die Bybel lees van mense wat blind was. Jesus het baie blindes in Sy tyd op aarde weer laat sien, maar gelukkig het Hy aan die mens die kennis en insig gegee om geneeskunde te bestudeer. Deur die eeue heen het die behandeling daarvan so gespesialiseerd geraak dat swak sig en blindheid in baie gevalle voorkom kan word. Katerakke en lensvervanging is 'n baie goeie voorbeeld daarvan, wat deesdae deur 'n klein operasie verwyder en ingeplant kan word.
Dr. Nicolaas Stempels van George Hospitaal is 'n spesialis in hierdie gebied, wat gewoonlik een keer per jaar na Riversdal Hospitaal kom om hierdie diens aan die Hessequa gemeenskap te lewer.
Vanjaar het hy vanaf 18 tot 20 Julie na Riversdal gekom en die Suid-Kaap FORUM was bevoorreg om een van die sestig katerak operasies wat hy oor die drie dae gedoen het, by te woon.
"Die prosedure word onder plaaslike verdowing gedoen en neem meestal nie langer as 'n halfuur nie," het Stempels verduidelik. Hy verkies dat die oog vir ten minste 'n volle dag toegehou word, maar in die geval waar katerakke van beide oë verwyder moes word en omstandighede dit vereis, kan dit bietjie verkort word.
Pasiënte wat katerakke het, of vermoed dat hulle het, kan na die plaaslike kliniek gaan waar 'n gekwalifiseerde suster hulle aanvanklik ondersoek en dan 'n aanbeveling aan 'n geneesheer doen.
Riversdal Lionsklub het gedeeltelike befondsing van hul verblyf en etes gedoen, wat R4 000 gekos het. "Lions landswyd is al lank met projekte soos 'Bright Sight' besig en dokter Stempels het 'n jarelange verhouding met die Lions, vandaar ons betrokkenheid," het Ian Calitz, president, verduidelik.
Omdat die kostes baie hoog is om die besoekende personeel, wat die spesialis en twee van sy teater personeellede insluit, word daar gewag tot daar genoeg pasiënte is om die koste te regverdig - wat gewoonlik een keer 'n jaar is.
Die hospitaal beplan egter om Stempels gedurende Oktober weer hierheen te laat kom, omdat daar heelwat pasiënte in die gebied is wat die prosedure moet ondergaan.

Dieteaterpersoneel onder leiding van dr. Nicolaas Stempels (heel regs agter) bestaan uit: Voor van links susters A. Olivier, J. Drefer en Y. van Schalkwyk; agter van links susters F.J. van Rensburg, Spandeel, verpleegster Stah, susters A. van Zyl, M. Draai, A. September en mnr. M. Hendricks.
ARTIKEL EN FOTO'S: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS